MOSSELBAAI NUUS - 'n Graad 9-leerder van Hoërskool Oudtshoorn, Micheale Abrahams, is Woensdagmiddag saam met drie ander lede van haar familie in 'n gru-botsing op die N1 tussen Leeu-Gamka en Laingsburg oorlede.
Volgens inligting wat deur die Oudtshoorn Courant bekom is, was die bestuurder van die VW Polo waarmee die familie gery het glo die kinders se ouma. Sy is ook oorlede.
Die ander kinders in die voertuig is glo 'n seun en twee meisies. Een meisie, wat saam met die gesin in die VW Polo was, het die ongeluk oorleef en is glo met ernstige beserings in die Rooi-kruis-kinderhospitaal opgeneem. Sover vasge-stel kan word is die kinders almal minderjarig.
Ronel Lareman, 'n klasonderwyser van Abrahams, het haar as 'n sterleerder beskryf.
"Die ongeluk en haar dood het ons by Struisies regtig geskok. Sy was 'n ongelooflike kind en 'n briljante netbalspeler. Sy was 'n stil kind, maar het 'n tipe presence gehad wat mens dadelik opgemerk het. Sy was baie populêr en geliefd onder haar medeleerders," het Lareman gesê.
Volgens haar het Abrahams en haar familie in Beaufort-Wes gewoon en was sy deur die week in die koshuis op Oudtshoorn.
Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê 'n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Vier insittendes van die VW Polo is tydens die botsing oorlede. Foto’s: SABC News Western Cape Facebook-blad
"Op hierdie stadium is nog net die bestuurder van die voertuig geïdentifiseer. Die familie moet nog die oorledenes uitken daarom kan name nie bekend gemaak word nie. Die ondersoek duur voort," het hy gesê.
Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê die botsing was tussen 'n bakkie en die VW Polo waarmee Abrahams en haar familie gery het.
"Ons kan bevestig dat dit 'n botsing reg van voor was, maar die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Die twee insittendes in die bakkie is ook ernstig beseer en is na 'n hospitaal geneem," het hy gesê.
Hy het padgebruikers gevra om asseblief versigtig op die paaie te wees.
"Dit is nou die einde van die skoolvakansie en daar is so baie mense wat terugkeer na hul wo-nings. Ry versigtig en gehoorsaam die padreëls sodat almal veilig by die huis kan kom. Een lewe wat verloor word deur 'n ongeluk is een te veel," het hy gesê.
Die ander kinders in die voertuig is glo ‘n seun en twee meisies. Een meisie, wat saam met die gesin in die VW Polo was, het die ongeluk oorleef en is glo met ernstige beserings in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'