OUDTSHOORN NUUS - Bykans vyf jaar nadat rolspelers by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat vergader het as gevolg van die aantal botsings wat daar plaasvind, blyk dit dat die kruising steeds gevaarlik is.
Oudtshoorn Courant het reeds in 2021 twee keer oor botsings en inwoners se kommer oor die kruising berig.
Na die eerste berig op 13 Mei 2021 en ’n opvolgberig op 16 Julie 2021 het verskeie amptenare, verkeerspersoneel, sakelui en ’n verteenwoordiger van Lyners Raadgewende Ingenieurs van George by die kruising vergader om oplossings te vind. Lyners is aangestel om die verkeersvloei by die kruising en ook in ander dele van Baron van Reedestraat te monitor en voorstelle te maak vir moontlike oplossings wat dan deur die munisipaliteit aan die provinsiale departement van vervoer voorgelê sou word.
Daar is weer in 2022 oor die kruising berig nadat die verslag van Lyners deur die munisipaliteit ontvang is. In breë trekke het die verslag bevind dat die kruising volgens die aantal voertuie geen probleme behoort te ondervind en nie opgradering regverdig nie en voldoen huidige verkeerstekens aan die vereistes.
Volgens die verslag was die aanbring van ’n minisirkel of ’n volwaardige sirkel nie ’n moontlikheid nie. Die bevinding was dat die meerderheid van die probleme by die kruising voorkom weens swak sigbaarheid as gevolg van geboue, plantegroei en potplantstrukture.
“Die munisipaliteit moet so ver as moontlik skoonmaak om die sigbaarheid by die kruising te verbeter en die situasie voortaan monitor. Die munisipaliteit moet ook die verkeersdepartement aanmoedig om inligting by ongelukstonele so volledig as moontlik te bekom, veral wanneer dit by die oorsaak en ligging van die ongeluk kom en ook die verkeersdepartement aanmoedig om meer beheer in terme van die spoed van voertuie by die kruising toe te pas,” het ’n verklaring van die munisipaliteit in 2022 gelui.
Met die beriggewing van 2022 het die direkteur van tegniese dienste, Justin Leasch gesê: “Dit is nie so eenvoudig om net ’n gebou plat te slaan nie, maar ons kyk op die stadium na ander moontlikhede soos om die bane te vernou. Die probleem is egter dat die pad aan die provinsie behoort en dat provinsie dit nie sal toelaat nie. Die provinsie het ook aangedui dat die sigbaarheidsprobleem eers aangespreek moet word, dit sluit die afkap van bome in, voor hulle ander opsies gaan oorweeg.”
Hy het op daardie stadium gesê dat ’n publieke deelname proses oor die kwessie sou begin.
’n Baksteenblombedding met plante op die sypaadjie wat gereeld herstel moes word nadat dit deur voertuie getref is, is verlede jaar verwyder.
Na verskeie botsings wat sedert 2022 plaasgevind het, het Oudtshoorn Courant vroeg verlede week navrae aan die munisipale bestuurder gestuur om te verneem of daar enige vordering gemaak is ten opsigte van veiligheid by die kruising.
Die munisipale woordvoerder het ontvangs van die navraag erken en gesê dat dit aan die relevante departement gestuur is vir kommentaar. Teen saktyd is geen kommentaar egter ontvang nie. Indien kommentaar ontvang word sal dit in ’n opvolgberig gebruik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’