OUDTSHOORN NUUS - Die hoof van visuele polisiëring, kolonel John Stripp, is Maandagaand by sy huis in hegtenis geneem op 'n klag wat met huishoudelik geweld teenoor 'n vrou verband hou.
Volgens kolonel André Traut, provinsiale kommissaris van kommunikasie van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval by Stripp se huis in Oudtshoorn plaasgevind.
"Die 56-jarige man is vir aanranding met die opset om ernstig te beseer in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en is op borgtog van R800 vrygelaat."
Volgens Traut word die saak nie net krimineel ondersoek nie, maar ook volgens die SAPD se dissiplinêre regulasies.
Volgens die klag-staat het Stripp na bewering die vrou geskop, haar geruk en getrek en ook gemik om haar te slaan. Sy borgtogvoorwaardes behels dat hy nie met getuies, veral die vrou, in aanraking mag kom nie. Hy mag nie by die huis kom waar hy in hegtenis geneem is nie. Hy moet by 'n adres in George, wat hy aan die hof tydens sy borgtogaansoek gegee het, bly en hy mag ook geen verdere misdrywe pleeg nie. Hy mag ook nie drank of dwelms gebruik nie.
Stripp moet weer op 28 November in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Kolonel John Stripp terwyl hy nog as luitenant kolonel in Mosselbaai gewerk het. Foto: Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'