OUDTSHOORN NUUS - Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) se munisipale gesondheidsafdeling in Oudtshoorn het Dinsdag 29 Julie met rolspelers in die Groter Oudtshoorn area deeluitgemaak van ‘n spaza-winkel blitsoperasie.
Tydens inspeksies het elke rolspeler spesifiek gefokus op hulle onderskeie rolle vir spaza winkels om te voldoen aan wetgewing in hiérdie bedryf.
TDM se munisipale gesondheidsafdeling Oudtshoorn-kantoor, Oudtshoorn-polisie, Oudtshoorn-munisipaliteit, plaaslike brandweer, wetstoepassing, personeel van die elektriese- en plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling het deel uitgemaak van die patrollie.
Daar was altesaam 15 amptenare betrokke by die blits operasie. Die TDM-span het gefokus op algemene higiëne van die voedselpersele, asook etikettering van voedselprodukte op die rakke van spaza-winkels. Van die vyf spaza-winkels wat in die Rose Valley besoek is, was elkeen in besit van ‘n voedselperseel-geskiktheidsertifikaat wat deur die TDM uitgereik is.
Enige spaza-winkel wat handel dryf moet in besit wees van ‘n geskiktheidsertifikaat om wettig handel te kan dryf.
Drie van die persele is tydelik gesluit aangesien hul nie voldoen het aan die brandweervereistes nie. Na afloop van elke inspeksie is die bevindinge met die eienaar of persoon in beheer bespreek, asook kort informele bewusmaking gegee met betrekking tot tekortkominge by die betrokke persele.
Gesamentlike blitsoperasies gee die verskillende instansies 'n kans om 'n holistiese benadering te volg oor hoe om die spaza winkels in die Tuinroete te help om te voldoen aan verskillende wetgewings wat van toepassing is op die bedryf van ‘n spaza winkel. Dit gee ook die gemeenskap die gemoedsrus dat daar wel inspeksies gedoen word by dié tipe persele en dat daar opgetree word indien hulle nie voldoen aan standaarde nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’