OUDTSHOORN NUUS - Die Polisiehoogte Sopkombuis het Sondag hulle tweede verjaarsdag gevier met die gasspreker, adv. Michelle Weyers, senior streekhofaanklaer.
Franzu Badenhorst van Famsa-Karoo, een van die sopkombuis se grootste ondersteuners was ook teenwoordig by die feesviering.
Sopkombuis se ontstaan
Die sopkombuis-projek was tydens die Covid-19 inperking, deur die egpaar, Susan en Phillip Seroux, gestig. Die egpaar het twee jaar terug op 'n beroep van RSG reageer om betrokke te raak by hul gemeenskap en 'n helpende hand uit te reik na diegene wat swaarkry.
"Ons het besluit om iets vir die kinders van die buurt te doen wie se ouers tydens die inperking nie werk het nie. Die sopkombuis was daagliks vanuit die Gospel Revelation Hervormingskerk bedryf. Ons is baie dank teenoor die kerk verskuldig."
Daarna het die egpaar sowat ses maande na borge gesoek om 'n houtstruktuur op hul erf op te rig. Die sopkombuis het verlede jaar ook uitgebrei toe 'n kombuis aangebou was, en daar word tans elke dag van die week, tussen 80 en 100 kinders en bejaardes met kos bedien.
"Ons kan die Here nie genoeg dank vir die seëninge die afgelope twee jaar nie."
Nasorg
Volgens Seroux verskil hul sopkombuis van ander omdat die kinders meer kry as net iets om te eet. Verlede jaar het die sopkombuis uitgebrei toe 'n nasorgsentrum, waar kinders na skool besig gehou word, opgerig is. Hulle neem deel aan sportsoorte soos sokker, rugby, krieket, netbal en potspel.
Famsa bied gereelde programme by die sentrum aan waar kinders geleer word van familiewaardes en hoe om verhoudings te bou.
Volgens Badenhorst is dit verstommend om te sien hoeveel jeugdiges daagliks in die Oudtshoorn-howe verskyn vir dwelm- en alkoholverwante misdrywe.
Badenhorst het die egpaar bedank vir hulle groot bydrae wat hulle in die gemeenskap maak.
"Ons wil kinders ook aanmoedig om hul drome na te streef en te sien realiseer."
Seroux het sy dank uitgespreek teenoor die sopkombuis en nasorgsentrunm se ondersteuners. Die sopkombuis en nasorgsentrum is van Maandag tot Vrydag vanaf 10:00 oop.
Vir meer inligting of skenkings kan die Seroux-egpaar by 079 987 9486 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'