Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Kortverhaalskrywer het met die nasionale skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) vermag wat min ander nog kon, deur die kompetisie twee keer binne vier jaar te wen.
Maretha van der Westhuysen woon op 'n plaas tussen Oudtshoorn en George en skryf al so lank as wat sy kan onthou, maar het eers die afgelope vyf jaar ernstig aan kortverhale begin werk.
Sy het in 2017 vir die eerste keer vir die BSV-kompetisie ingeskryf en sommer met die intrapslag met haar verhaal Woestynvrou, die eerste plek behaal in die afdeling vir ongepubliseerde skrywers.
Vanjaar het sy vir die afdeling vir gepubliseerde skrywers ingeskryf aangesien sy vroeër vanjaar as skrywer gedebuteer het. Haar kortverhaalbundel, Deur haar venster, is in Maart deur Turksvy Publikasies vrygestel en dit blyk dat dit flink verkoop.
Sy het ook in 2018 vir die eerste keer 'n kortverhaal vir die US Woordfees se kortverhaalbundel voorgelê en dit is ook aanvaar.
Sy sê sy het vanjaar twee kortverhale vir die BSV-kompetisie ingeskryf, maar het gedink die wenverhaal 'n Pa se gat, en sommer 'n ma s'n ook, is 'n sterker storie.
"Die storie handel oor 'n tiener wat teen haar ouers rebelleer, en ek het aanvanklik gedink dit gaan die beoordelaars skok, maar ek glo dis 'n relevante tema vir die jeug van vandag," sê sy. Volgens haar neem sy aan kompetisies deel omdat dit vir haar 'n aansporing is. "Ek skryf nie om te wen nie, alhoewel ek moet erken dit is 'n heerlike gevoel as jy 'n oproep kry om jou geluk te wens. Vir my gaan dit oor die uitdaging om volgens 'n tema te skryf, en skryf het 'n groot deel van my lewe geword.
Van der Westhuysen is tans besig met 'n aantal kinderstories wat sy as 'n bundel aan Turksvy Publikasies wil voorlê. Alhoewel sy daarop sinspeel dat daar dalk nog 'n kortverhaalbundel mag volg, wil sy haar nie op hierdie stadium tot 'n spesifieke tyd verbind nie.
Die kortverhalbundel, Deur haar venster, kan direk by haar bestel word by 083 632 3780 of per e-pos by turksvypublikasies@gmail.com
Vorige artikel: Skrywer wen vir tweede keer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'