OUDTSHOORN NUUS - Ondanks gure weer die afgelope naweek het honderde mense by die skaalmodel-vliegtuigskou opgedaag wat by die Oudtshoorn-lughawe gehou is.
Dié skou is oor drie dae gehou wat vanaf Donderdag 28 September tot Sondag 1 Oktober geduur het.
Konstante reën het egter Saterdagmiddag uitgesak waarna die skou afgelas is.
Dawie Theron van Kango-vliegtuig-klub sê dat dit vanjaar die 52ste keer is wat die skou in Oudtshoorn aangebied was.
"Ons het vanjaar omtrent so 50 geregistreerde vlieëniers gehad; gewoonlik is dit tussen 100 en 150, maar weens die ekonomie wat knyp was dit minder. Ons is steeds dankbaar vir die goeie opkoms. Daar was oudergewoonte weer helikopters, turbinestralers, valskerms en skaalmodelle van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog wat in verskillende kategorieë deelgeneem het en beoordeel is op grond van toertjies, voorkoms en hoe hulle vlieg."
Een van die vlieëniers wat met Oudtshoorn Courant gesels het, Marinus Botha van Bloemfontein, was dit eens dat daar vanjaar heelwat nuwe toevoegings was soos byvoorbeeld die vegvliegtuie wat aandag getrek het. Dit het die A10 - en Impala's ingesluit wat in Suid-Afrikaanse kleure getooi was.
Nog 'n vliegtuig wat aandag getrek het, was beslis die GB 2-vliegtuig van Granwell Brothers.
Sy eienaar, Pieter Erasmus, vertel entoesiasties dat die oorspronklike vliegtuig in 1926 in 'n windtonnel vervaardig is.
"Dit feit dat dit in 'n windtonnel gebou is, is ook die rede vir sy buitengewone vorm - kompleet soos die van ' n reëndruppel sodat hy min lugweerstand kan hê; so hy is baie glad in die lug. Sy doel was eintlik om resies mee te jaag. In daai jare was dit die Groot Depressie en die manne het meegeding met die GB2 om die heftige prysgeld te wen. In 1999 was daar na baie jare weer 'n GB2-vliegtuig gebou wat hulle vir 11 jaar lank gevlieg het.
"Dis toe dat hulle uitvind dat dit eintlik 'n baie nice vliegtuig is, alhoewel die vliegtuig ook ontwerp is om mense te dood. Vandag staan 'n GB2-vliegtuig in 'n museum in Massachusetts (Amerika) vanwaar die Granwell-broers is."
Op 'n vraag waarom hy besluit het om 'n skaalmodel GB2 te bou, antwoord Erasmus trots: "Dis 'n baie skaars vliegtuig en wêreldwyd was daar net 29 GB2's ooit gebou en uiteraard trek dit baie aandag. Hierdie GB2-skaalmodel het ek self gebou met behulp van 'n kit.
"Ek het ook my Vampire-vegvliegtuig saamgebring en Ducket-fan-vliegtuig saamgebring wat 'n ingeboude elektriese motortjie in het.
"Skaalmodelvliegtuie is my passie sedert ek 'n tjokkertjie was en ek hoop beslis om volgende jaar weer hier te wees," sê Erasmus.
Die kinders het hulle verkyk aan die skaalmodelvliegtuie. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’