OUDTSHOORN NUUS - Vroeë Kersgeskenke het gesorg vir vreugde en glimlagte op 132 kindergesiggies tydens 'n Santa Shoebox-geleentheid vir gr. 2 tot 7 leerders van Kango Nessie-kleuterskool en Voorbedag Primêr.
Oudtshoorn-polisie en sosiale misdaadvoorkoming het saam met kinderwelsyn die suksesvolle oggend op Saterdag 2 November by Swartberg Country Manor aangebied. Die doel van die projek was eenvoudig: 'Sit 'n glimlag op 'n kind se gesig.'
Die kinders is geleer dat die ware betekenis van Kersfees is om te gee en nie net te ontvang nie. 'n Boodskap van hoop is aan die leerders oorgedra en is hul aangemoedig om groot te droom, buiten hul omstandighede, asook dat jou keuses jou toekoms vorm.
Na afloop van die uitdeel van die geskenke het die jongspan gesmul aan worsbroodjies en van hul energie ontslae geraak deur speletjies te speel.
Die ruim skenkings is gedoen deur Hilary James van Hillwood Primêr in Lavender Hill, Leonie Shamrock Fourie, Gerdi en Cobus van den Berg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’