OUDTSHOORN NUUS - Sakkrappers vroeg soggens en laat saans is 'n algemene gesig in Oudtshoorn, en tot meeste inwoners se ergernis. 'n Inwoner van Hoogstraat het Dinsdag 1 Oktober 'n onderonsie met van die sakkrappers gehad en was erg ontsteld omdat hulle handgemeen wou raak met sy vrou.
Volgens Johan van der Linde, die huiseienaar is hy nou keelvol vir die situasie aangesien Oudtshoorn-munisipaliteit, munisipale wetstoepassers, asook die plaaslike polisie skynbaar nie die saak kan besleg of 'n werkbare oplossing kan vind nie.
Die sakkrappers het Dinsdagoggend, soos met ander vullisdae, sakke stukkend geskeur, vullis rond gegooi en aan beweeg na die volgende eiendom.
Van der Linde het hulle glo aangespreek daaroor omdat hulle reg voor sy huis vuur gemaak het en 'n onderonsie tussen die Van der Lindes en die sakkrappers het begin.
Die polisie is gekontak om die situasie te ontlont, maar hul hande is afgekap aangesien die sakkrappers en die opskeur van vullissakke 'n munisipale wetstoepassingskwessie is. Raadslid Johan Duvenhage van wyk 2 was ook op die toneel, maar volgens hom is dit 'n algemene probleem wat oor al in Oudtshoorn gebeur.
Van der Linde is erg ontstoke aangesien sy huis in die mark is.
"Hoe op aarde moet ek my huis verkoop as dit gedurig so lyk voor die eiendom? Dit is onaanvaarbaar, onhigiënies en plein net swak bestuur vanaf die munisipaliteit se kant af. Moenie vir my vertel daar kan nie 'n oplossing gevind word nie."
Van der Linde, oorspronklik van Mosselbaai, is van mening dat sakkrappers in Oudtshoorn 'n massiewe probleem is in vergelyking met ander dorpe en hoop hy dat daar daadwerklik opgetree sal word om iets omtrent die situasie te doen.
Teen druktyd is kommentaar vanaf die Oudtshoorn-munisipaliteit nog nie ontvang nie. Die kommentaar sal aanlyn bygevoeg word soos dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’