OUDTSHOORN NUUS - Johannes Saayman, 'n boer van die Calitzdorp-distrik, verskyn weer Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na hy verlede jaar van poging tot moord op 'n vrou aangekla is.
Die Oudtshoorn Courant het in November verlede jaar berig dat hy na bewering op 26 Junie 2021 dié vrou op die sementpad aangerand het en haar met die vuis geslaan het en ook getrap en gewurg het.
Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die vrou aan Saayman bekend en het sy verskeie beserings opgedoen waarna sy vir drie weke gehospitaliseer is.
Landdros Vaughn Shone het verlede jaar borgtog van R5 000 toegestaan omdat Saayman nie 'n vlugrisiko is nie en hy alle borgtogvoorwaardes sal na-kom.
Volgens die borgtogvoorwaardes mag Saayman nie met die klaer kontak maak nie, wegbly van haar woonadres en nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Saayman word deur Christo van der Bergh, van Coetzee en van der Bergh Prokureurs, verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'