OUDTSHOORN NUUS - Die sakeman van Oudtshoorn wat nou al vir meer as 'n jaar in die hof verskyn op vier klagtes van seksuele aanranding waarop hy onskuldig gepleit het, het Woensdag en Donderdag self in die Oudtshoorn landdroshof getuig.
Adv Alfred Schmidt het in opdrag van die sakeman, Ben Vrey Snr, se prokureur, mnr Louis Oosthuizen, in dié twee dae opgetree omdat Schmidt ook by Vrey se egskeiding betrokke is en die saak verstaan.
Vrey wat restaurante en ander besighede in die dorp besit het, is in Junie 2012 aangekla op vier klagtes van seksuele aanranding. Drie van die klaagsters was kelnerinne wat vir hom gewerk het en die ander was 'n 13-jarige meisie.
Sy getuienis het begin deur 'n kort verduideliking te gee van die opset van die verskeie besighede en restaurante wat hy bedryf het. Hy het ook getuig dat daar 32 kameras oral op die perseel was, maar dat die inligting wat deur die kameras opgeneem word vir net ongeveer 'n week of twee gestoor kan word.
Hy het in die hof getuig dat hy glad nie kan verstaan waar die klagtes vandaan kom nie en dat hy goeie verhoudings met al vier die meisies gehad het. Hy is op 19 Junie 2012 by sy huis in hegtenis geneem, maar het getuig dat hy nooit van die klagtes geweet het voor daardie dag nie.
Die klaagsters het beweer dat die beskuldigde aan hulle borste, boude en privaatdele gevat het.
Volgens die een klaagster het hy sy hande onder haar broekie ingedruk om aan haar boude te vat. Die insident het in sy kantoor plaasgevind nadat sy huilend na hom gekom het omdat die kelners wat daar gewerk het se fooitjies weggeraak het. Hy het haar getroos en haar 'n drukkie gegee. Vrey sê dat hy opgetree het soos enigiemand anders sou deur haar 'n drukkie te gee, maar geensins op 'n onvanpaste manier aan haar gevat het nie.
Nog 'n klaagster het beweer dat hy haar van agter af aan die borste gegryp het toe hulle by die melkskommelmasjien gestaan het. Hy het die bewering ook ontken. Volgens hom het hy en een van sy voormalige bestuurders dié klaagster ingeroep omdat hy gehoor het die storie versprei en sy het gesê sy weet nie waar die stories vandaan kom nie en dat sy dit sal regstel.
Die derde kelnerin het gesê hy het sy tong in haar mond gedruk en ook aan haar boude gevat. Ook dit het die sakeman ontken en gesê dat daar nooit sulke geleenthede was om dit te doen nie.
Die 13-jarige meisie beweer hy het onsedelik aan haar gevat terwyl hulle met mekaar in die huis gestoei en mekaar rondgejaag het. In reaksie hierop het Very gesê dat hy die meisie liefgehad het asof dit sy eie dogter was en hy haar nooit enige skade sou aandoen nie.
Die sakeman het getuig dat hy al ongeveer R8 miljoen in sy besighede ge-steek het en alles verloor het as gevolg van hierdie saak.
Hy het ook gesê dat die vrou van wie hy al sewe jaar skei 'n komplot teen hom het en die meisies opgesteek het om die saak te maak om hom te na te kom.
Dit volg glo nadat sy aanspraak gemaak het op 'n strandhuis wat hy haar na bewering geskenk het en hy dit nie wou gee nie.
Adv Michelle Weyers het vir die staat opgetree. Sy het aangevoer dat die sakeman leuens vertel omdat daar vier meisies is wat dieselfde storie het.
"As dit 'n leuen was kon hulle die storie verdik het en gesê het jy het hulle verkrag ook, maar die storie bly dieselfde," het sy gesê.
Vrey het aan Weyers gesê dat hy voel soos Jesus moes gevoel het toe hy voor Pilatus gestaan het.
"Ek staan hier voor die man wat my moet veroordeel, soos Jesus voor Pilatus en dit alles omdat 'n vrou 'n grief oor geld het," het hy gesê.
Hy het verder gesê dat Psalm 64 presies verduidelik wat in die hof aan die gang is en dat die waarheid sal seevier.
Weyers het gedurende haar kruisverhoor aan hom gevra of hy ooit gedurende die tyd wat hy op borgtog is met enige van die klaers gepraat het.
Dit kon hy nie ontken nie. Hy het aan een van die kelnerinne gesê sy kan 'n brief skryf as sy sou wou, want haar maaitjies kan haar nie meer beskerm nie en is nie meer vir haar daar nie.
Weyers het ook aangevoer dat Vrey jok oor die klagtes teen hom en dat sy dink hy is skuldig waarop hy geantwoord het: "Ons sal sien."
Landdros Daniel Boks het die saak tot 19 en 20 Maart uitgestel sodat nog getuies geroep kan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'