PRINS ALBERT NUUS - Sy verwag van Prins Albert se munisipale bestuurder, Aldrick Hendricks en sy span om voort te gaan met dienslewering aan die inwoners van die dorp.
Dit is die kommentaar van die burgemeester, Linda Jaquet (DA), nadat 'n spesiale tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid Hendricks, saam met Jafta Booysen, Izak Jenner en Nicolaas Klazen, beveel het om gesamentlik meer as R400 000 plus rente aan die Matzikama-munisipaliteit aan die Weskus terug te betaal.
Dit volg na bedrog wat hulle glo hier gepleeg het met die toekenning van 'n tender in 2020 vir persoonlike beskermende toerusting (PPE).
Volgens Kaizer Kganyago, woordvoerder van die spesiale ondersoekeenheid, was Hendricks, Booysen en Jenner ten tyde van die oortreding almal senior munisipale amptenare van die munisipaliteit, en het sáám die onderneming Duneco BK besit.
Hendricks was die munisipale bestuurder, Booysen hoof van finansies en Jenner 'n Covid-19-koördineerder. Klazen het 'n verbintenis gehad met die diensverskaffer.
Die vier het dit glo so bewimpel dat 'n tender vir hierdie toerusting aan Duneco toegeken is sonder dat die wettige prosedure gevolg is. Die toekenning het geskied vier dae ná die sluitingsdatum vir die indien van tenders en Hendricks se vrou se bankrekening is ook na bewering in die bedrogspul ingespan. Hendricks het glo selfs die bestaande Covid-19-span by Matzikama ontbind en Jenner toe as koördineerder aangestel.
Volgens Kganyago is hulle in Mei verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem.
"Hulle is van bedrog aangekla omdat hulle na bewering saamgespan het met 'n diensverskaffer, Duneco wat deur Klazen bedryf was, om 'n tender toe te ken sonder om voorsieningskettingbestuursprosesse in April 2020 te volg. Hulle is elk op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak sal dié maand by die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Bellville voorkom."
Die beskukdigdes het toe uit hul poste by die Matzikama-munisipaliteit bedank.
Hendricks is, ondanks dié swaard oor sy kop, intussen as munisipale bestuurder van Prins Albert aangestel, terwyl Booysen dieselfde pos in Laingsburg losgeslaan het. Klazen was voorheen LUR vir kultuursake, sport en ontspanning.
"Ek het kennis geneem van berigte in die media van die bevindings van 'n spesiale tribunaal waarby die Prins Albertse munisipale bestuurder, Aldrick Hendricks, betrokke is. Mnr. Hendricks het my van die besluit van die tribunaal ingelig op Vrydagaand, 23 Junie, en die volle raad op Dinsdagoggend, 27 Junie. Ek het 'n afskrif van die bevinding ontvang en sal regsadvies hiervoor inwin. Met sy aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder in November 2021, en sy daaropvolgende vaste aanstelling in dié pos in Maart vanjaar, het mnr. Hendricks oop kaarte met die munisipaliteit gespeel oor die spesiale ondersoek by die Matzikama-munisipaliteit. Hy het ons sedertdien van elke stap ingelig. Ek verwag van hom en sy bestuurspan om voort te gaan om te fokus op dienslewering aan die inwoners van Prins Albert," het Jaquet gesê.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'