OUDTSHOORN NUUS - Kevin Record (65) van Tallahassee, Florida, VSA is tans in Suid-Afrika as deel van sy poging om die eerste man in die wêreld te wees wat per fiets om die wêreld reis.
Oudtshoorn Courant het Vrydag 5 Desember in Voortrekkerweg in hom vasgeloop waar hy onderweg was na De Rust. Geld wat hy insamel met die reis is vir Alzheimer's bewusmaking ter nagedagtenis aan sy ouers, Wayne en Jane Record.
Record is 'n oudjoernalis en is nou 'n tennisafrigter wat van uitdagings hou. Volgens hom gaan sy rit hom 420 dae neem om te voltooi.
"Ek is tans besig om per fiets om die aarde te reis om 'n Guinness-wêreldrekord te vestig, terwyl ek terselfdertyd geld en bewustheid vir die Alzheimer's-vereniging insamel.
Die reis sal meer as 39 000 kilometer beslaan, insluitend vlugte oor verskeie watermassas, wat uiteindelik gelykstaande is aan die omtrek van die aarde.
In ooreenstemming met Guinness-wêreldrekordriglyne moet ek deur twee antipodale punte (teenoorgestelde punte op die aarde) fietsry. Myne sal Madrid in Spanje en Wellington in Nieu-Seeland wees. Sodra die missie voltooi is, sal ek die wêreldrekord bekom as die oudste persoon wat om die aarde per fiets gereis het."
Sy fiets is spesiaal aangepas en glo hy minder is meer. Hy het reeds 'n aantal kilometers op die fiets deurgebring. In 2016 het hy van Yorktown na San Francisco gery met Horse without a name soos hy die fiets noem.
In 2022 het hy Ierland deurkruis op die fiets en was daar nie eers 'n kwessie dat hy 'n ander fiets vir sy nuutste uitdaging gaan gebruik nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’