OUDTSHOORN NUUS - 'n Brand wat op Nuwejaarsdag binne minute twee strukture en 'n motor verteer het, het 'n familie van 12 haweloos gelaat en 'n aangrensende huis erg beskadig. Die brand het omstreeks 16:00 in 'n woonstruktuur agter in die erf van Klipbokweg 3, Bridgton uitgebreek.
Volgens Johannes Wewers en sy vrou Mauricia was hulle in die gebou toe die huiseienaar, Willie Cobus, hulle waarsku dat 'n deel van die gebou brand.
"Ek en my vrou het uitgehardloop en toe ons omkyk was die vlamme al deur die dak, daar was nie tyd om enigiets te red nie," het Wewers gesê. Daar was twee motors in die erf en hulle kon daarin slaag om een motor weg te stoot, maar Cobus se Opel Astra was reeds in vlamme gehul. Volgens Wewers was die brandweer binne minute op die toneel.
"Ons het net die grootste lof vir die brandweer, ons het skaars gebel toe hoor ons reeds die sirenes, maar die vuur was net té vinnig en té groot om te keer."
Die Wewers-egpaar, hulle volwasse kinders en kleinkinders (altesaam 12 mense) het al hulle besittings in die brand verloor. Willie Cobus en sy vrou se huis is ernstig beskadig, sy motor is totaal verwoes en die inhoud van 'n stoorkamer het ook in die slag gebly. Nie een van die twee families het enige versekeringsdekking nie.
Volgens Cobus en Wewers het mense reeds klere en ander benodighede geskenk en die munisipaliteit het materiaal geskenk om 'n sinkgebou van 2 m x 3 m op te rig. Die gebou is té klein om die familie te huisves, maar kan tydelik as stoorplek gebruik word.
Wewers sê egter hulle grootste verlies is sy gereedskap wat uitgebrand het. Hy is 'n stoffeerder van beroep en na die brand is daar geen bruikbare gereedskap oor nie.
"Ek kan van voor af begin, maar elke stukkie gereedskap en al vyf naaimasjiene wat ek en my vrou gebruik het om 'n inkomste te verdien, is verwoes."
Onder die verlore gereedskap was elektriese bore, naaimasjiene, 'n elektriese saag, 'n stoffeermasjien en 'n verskeidenheid handgereedskap.
Persone of instansies wat die slagoffers graag wil help kan intussen by 044 272 8918 met die Oudtshoorn Courant in verbinding tree wat dan die boodskappe sal oordra of kontaknommers sal verskaf.
'n Lugfoto kort nadat die brandweer op die toneel gekom het. Foto: Stephan Rossouw
Die uitgebrande motor van Willie Cobus en 'n gedeelte van sy huis wat beskadig is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'