OUDTSHOORN NUUS - Die onderburgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Gevan Juthe, het Maandag tydens 'n perskonferensie bevestig dat van die raadsbesluite wat op 7 Oktober tydens 'n spesiale vergadering ter tafel gelê is, intussen goedgekeur is waarna implementering sal volg.
Een van die besluite is dat die raad die munisipaliteit se tegniese dienste-afdeling 'n mandaat gegee het om aansoek te doen vir finansiering sodat hul infrastruktuur ontwikkelings-beplanningsfase (elektries en siviel) van stapel gestuur kan word.
Juthe het gesê dat indien die munisipaliteit hierdie ontwikkelingsplanne in plek het bestaande infrastruktuur beter in die toekoms in stand gehou sal word.
Oop grond en ongebruikte eiendom
Dit is die munisipaliteit se voorneme om oop stukke grond in die gemeenskap op die openbare eiendomsmark te sit vir die publiek.
Hierdie oop stukke grond sal teen een erf per tender teen markverwante pryse verkoop word en is volgens Juthe reeds vooraf geïdentifiseer met die oog op ekonomiese ontwikkeling vir gemeenskappe. Voornemende kopers sal aan sekere kriteria van die munisipaliteit moet voldoen soos die versekering dat die grond wel ontwikkel sal word voordat dit van die hand gesit word. Eiendom wat die munisipaliteit nie meer gebruik nie word ook beoog om verkoop te word en sekere strate in die gemeenskap sal voortaan oopgestel word vir ekonomiese aktiwiteite. Gemeenskapslede kan dan bygestaan en bemagtig word om hul eie besighede op die been te bring.
Geriewe vir plaaswerkers
Nog mosies wat goedgekeur is behels die voorneme van die munisipaliteit om met plaaseienaars te vergader om 'n weg te vind sodat behoorlike dienste soos elektrisiteit en ablusiefasiliteite vir plaaswerkers voorsien kan word.
Agterplaasbewoners
Daar sal ook voortaan addisionele water en elektrisiteit aan agterplaasbewoners verskaf word met dieselfde deerniskwota waarop huis-eienaars geregtig is.
Asla
Volgens Juthe sal die konstruksie-maatskappy, Asla, sy bestaande provinsiale behuisingsprojek in Dysselsdorp voltooi waarna hy weer soos enige ander maatskappy mag aansoek doen vir ontwikkelingsprojekte wat onder die vaandel van die Oudtshoorn-munisipaliteit val. Juthe het beklemtoon dat die munisipaliteit nie sal inmeng met huidige provinsiale behuisingsprojekte nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'