PRINS ALBERT NUUS - Inwoners van Prins Albert het die munisipale raad en amptenary verlede week op 'n openbare vergadering erg geroskam oor hul se waterbestuursvermoë.
Dit kom nadat die burgemeester, Goliat Lottering, en waarnemende munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, die byeenkoms belê het om die dorp om verskoning te vra vir 'n driedag-waterkrisis einde verlede jaar wat die dorp op Nuwejaarsdag sonder water gelaat het. Hulle het die krisis egter nét betyds gekeer, volgens Vorster.
Sy het gesê die watersituasie is nou "fantasties". Die beperking van 90 liter per persoon per dag bly egter van krag.
Net meer as 30 inwoners het by die vergadering opgedaag, maar dié groepie ingeligtes is nie deur verskonings en verduidelikings gepaai nie.
Hulle het Lottering en sy span beskuldig van onder meer ondeursigtigheid, misleiding, halwe waarhede, die weerhouding van inligting, 'n algehele gebrek aan tegniese kundigheid en die ignorering van duidelike tekens van swak watergehalte.
Terwyl Vorster 'n foutiewe klep by 'n opgaardam voorgehou het as die rede vir verlede jaar se probleme het die inwoners aan haar en Lottering gesê hul verskonings "maak nie sin nie".
In dié tyd was vier van die dorp se agt werkende boorgate ook buite werking, het 'n sybokhaarboer, Gay van Hasselt, gesê.
Van Hasselt is ook van mening dat provinsiale kundiges ingeroep moet word sodat die volhoubare gebruik van water beter bestuur word.
Volgens John McKenna is daar agt jaar gelede al 'n studie gedoen oor die dorp se wateropgaarkapasiteit - maar dit word nou eers aangespreek. Terwyl inwoners die spit afbyt deur die instel van droogtetariewe, lê die ware probleem by munisipale bestuursvernuf. Die vorige munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, het ook weens sy planne vir n reuse-appelkoosboord buite die dorp wat 'n groot waterverbruiker sou wees, onder inwoners deurgeloop.
'n Heining van nagenoeg R3 miljoen is opgerig as voorbereiding vir die boorde, waarvan nou nog niks gekom het nie. Die heining, wat deur die vliegveld loop, het intussen die dorp se vliegtoerisme-inisiatiewe gekelder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'