PRINS ALBERT NUUS - Die komitee wat jaarliks die Prins Albert-leesfees beplan en aanbied, het Maandag 22 Junie besluit dat die feesdatums van 4 tot 6 September onveranderd sal bly.
Die komitee het sowat twee weke gelede die impak wat Meiringspoort se sluiting op die fees kan hê, bespreek en daar moes besluit word of die datums geskuif moet word. Na deeglike oorweging is egter besluit om die datums onveranderd te hou.
Ondersteuning van die fees uit Prins Albert en die omliggende gebiede is elke jaar uitstekend en mense wat spesiaal van elders vir die fees kom, sal dit waarskynlik steeds doen al beteken dit dat 'n ompad moontlik gevolg moet word.
Die komitee het ook in ag geneem dat skrywers wat hul reeds tot die fees verbind het, moontlik nie op alternatiewe datums beskikbaar sal wees nie. Dieselfde geld vir akkommodasie wat reeds bespreek is.
Daar word steeds duim vasgehou dat tydelike herstelwerk aan Meiringspoort teen die begin van September tot so 'n mate gevorder het, dat die poort vir gereguleerde verkeersvloei oop sal wees.
Vanjaar se leesfees bied 'n wye verskeiden-heid van skrywers en optrede.
Die fees word weer in die Showroom-teater aangebied en begin Vrydagaand, 4 September, met gedigte en musiek en strek tot Sondag om 12:00. Die gewilde Poetry at Sunrise waar digters vroegoggend hul gedigte in die ope lug voorlees, vind ook Sondagoggend plaas.
Skrywers en deelnemers aan vanjaar se fees is uiteenlopend en sluit die volgende in: Martin Steyn, Danie Marais, Julio Agrella, Hannes Visser, Anzil Kulsen, Danie Verster (die operasanger wat saam met komponis en begeleier Ben Oosthuizen optree), Chris Marais en Julienne du Toit, Daniel Lotter, Sally Andrew, dr. Linda van der Westhuizen, Erika Viljoen, Rudolph de Wet, Maritha Lamprecht, Victor Rademacher en die PEAAT-teatergroep wat Annelie Botes se toneelstuk opvoer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’