PRINS ALBERT NUUS - Na 'n aanvanklike besluit deur die komitee van die Prins Albert-leesfees om as gevolg van die sluiting van Meiringspoort, die normale fees slegs as 'n fees vir plaaslike skrywers aan te bied, moes daardie besluit hersien word.
Die komitee het op 28 Julie weer besin oor die besluit om 'n eendagfees aan te bied en tot die slotsom gekom dat dit nie finansieel haalbaar en prakties uitvoerbaar is nie.
Buiten die borgskappe wat deur organisa-sies en die Wes-Kaapse departement vir kultuursake en sport bewillig is, is daar beperkte fondse beskikbaar wat van verlede jaar se fees oorgestaan het. Die komitee het besluit om nie daardie fondse op 'n kleiner fees te waag nie, maar dit eerder oor te hou vir volgende jaar se normale fees. Borgskappe wat vir vanjaar se fees bewillig is, is nie oordraagbaar nie en derhalwe moet nuwe aansoeke vir volgende jaar ingedien word.
Die volgende Prins Albert-leesfees word nou beplan vir die naweek van 3 tot 5 September 2027 en sal weer soos die afgelope twee jaar in The Showroom aangebied word.
Uitgewers en skrywers sal opnuut genader word vir deelname om te sorg dat die fees soos in die verlede 'n platform is vir veral nuut gepubliseerde boeke. Enige navrae en voorleggings van boeke wat in 2027 deur uitgewers gepubliseer word, kan aan Hannes Visser gerig word by 083 467 1522.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’