OUDTSHOORN NUUS - Lede verbonde aan Oudthoorn-polisie se VISPOL-eenheid het Saterdag, 24 Augustus plaaslike skoolleerders op 'n uitstappie geneem na die Cango Wildlife Ranch.
Onder leiding van Lt kol. Wayne Venter, ao. Jan Combrinck, ao. Leila Claassen, ao. Jacinda April en sers. Mabel Lewendal is daar gesorg vir 'n onvergeetlike uitstappie. Leerders van Rodewal-, Volmoed-, Saturnus-, Bongulethu- en Colridge Primêre skole, en een leerder van Visikele Sekondêre skool het die uitstappie meegemaak.
Clifford van Wyk, gids by Cango Wildlife Ranch het seker gemaak dat die kinders meer leer oor die wildediere wat hier aangehou en versorg word.
In gesprek met ao. Jacinda April verduidelik sy dat die uitstappie nie slegs was om vir leerders te wys waaroor die dorp gaan nie, maar om 'n positiewe saadjie te plant by hulle.
"Sodat hulle kan weet dat jou omstandighede nie bepaal wie jy is en waarheen jou reis jou sal lei nie, ongeag die grootte van die saad produseer dit steeds groot vrugte, so moenie klein drome najaag nie, droom groot sodat jy die wêreld kan wys dat jy uit jou omstandighede kan styg."
Die onderskeie range in die polisie is ook aan die kinders verduidelik. Hierdie projek vorm deel van die 'Coffee with a Cop'-inisiatief waar plaaslike polisielede uitreik na die jeug in die gemeenskap.
Oudtshoorn-polisie se VISPOL eenheid is dankbaar teenoor die bestuur en personeel van Cango Wildlife Ranch wat die geleentheid moontlik gemaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’