Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn is steeds geskok na die voorval waar 'n polisieman, verbonde aan die De Rust-polisiestasie, op oujaarsdag 2023, sy vrou geskiet het en toe sy eie lewe geneem het.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoek-direktoraat (OPOD) het die week in 'n verklaring bevestig dat hulle tans besig is om ondermeer 'n klagte van poging tot moord te ondersoek.
Phaladi Shuping, OPOD se woordvoerder, het verder gesê dat hulle ook 'n geregtelike doodsondersoek-, en die nalatige verlies van vuurwapendossiere geopen het.
"Die vuurwapen wat gebruik is, behoort na bewering aan die beampte se kollega. Die oorledene mag nie in besit van 'n vuurwapen gewees het nie," lui die verklaring.
Shuping het in sy verklaring gesê daar word beweer dat lede van Oudshoorn-polisie op 31 Desemeber 2023 om ongeveer 18:00 'n klag ontvang het van 'n skietvoorval in Hanistraat, Bongolethu.
"Volgens getuies het 'n polisiebeampte met 'n vuurwapen by sy bure se huis ingegaan en gevra waar sy vrou is. Hy is ingelig dat sy in 'n huis oorkant die straat was.
Volgens die getuie het die oorledene toe een skoot in die lug en een na die getuies afgevuur. Die beampte het sy huis binnegegaan en na bewering twee skote afgevuur voordat hy uit die huis gegaan het. Hy het na bewering buite gestaan en homself geskiet. Die vrou is na die hospitaal geneem vir mediese aandag."
Talle polisievoertuie was op die toneel.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel die aand van die voorval, het bure en familielede in die straat saamgedrom. Familielede is deur die inwoners getroos. Hulle het ook op daardie stadium aangedui dat hulle nie kommentaar oor die voorval wou lewer nie.
Die Courant het die week weer gepoog om met die familie te gesels, maar hulle wou steeds nie kommentaar lewer nie. Die polisiebeampte se vrou is egter intussen ontslaan, maar die aard van haar beserings kon nie vasgestel word nie.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die SAPD se binneshuise Werknemergesondheid en -welstand praktisyns – insluitend kapelane, sielkundiges en maatskaplike werkers – aangesê is om psigososiale ondersteuning aan die familie en kollegas van die oorlede beampte te verskaf.
Vorige artikel: Polisiebeampte oorlede as gevolg van skietvoorval
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’