KAROO NUUS - Polisielede aan die Tuinroete, wat op 18 Januarie toekennings by die provinsiale polisie se uitnemendheidstoekennings in Kaapstad ontvang het, was bevoorreg om twee feesvieringe te geniet.
Die Tuinroete-distriksbevelvoerder, generaal-majoor Phumzile Cetyana, het Maandag 27 Januarie die tweede viering, 'n intieme seremonie ter ere van hierdie uitstaande offisiere, by sy kantoor in George aangebied.
Die gesogte provinsiale toekennings erken uitsonderlike toewyding, diens en uitnemendheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Beamptes van George, Ladismith, Oudtshoorn, Mosselbaai en Riversdal het met hul koppe omhoog teruggekeer huis toe na hul merkwaardige prestasies.
Die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) is aangewys as die tweede beste FCS-eenheid in die Wes-Kaap.
Ao. Fanie le Roux, waarnemende bevelvoerder van eenheid, sê hy is ongelooflik trots op sy span.
"Ons is min beamptes wat 'n geweldige groot area moet dek. Om erkenning te kry vir die werk wat ons doen is 'n riem onder die hart. Dit is lekker om te weet die werk wat ons doen word raakgesien en dien ook as motivering om net daardie ekstra bietjie in te sit."
Dié eenheid in Oudtshoorn is in 2003 gestig.
Le Roux sê behalwe hy is daar net nog twee beamptes oor van die oorspronklike span wat 22 jaar gelede by die eenheid begin het.
Die Ladismith eenheid vir sigbaarheidspolisiëring is as Vispol-span van die jaar aangewys. Hulle is van links: Konst. GM Mentoor, konst. HB Josephs, konst. PS Quiens, sers. JC Sampson, konst. N Mokhehle, konst. AD Lingerveldt, konst. D Belelie en sers. JWI Jantjies. Afwesig: Sers. HM Moses
Ladismith se eenheid vir sigbaarheids-polisiëring (Vispol) is ook tydens die geleentheid vereer en is aangewys as die beste Vispol-eenheid in die Wes-Kaap. Hierdie is die tweede agtereenvolgende keer. Hulle het in Desember verlede jaar ook 'n toekenning ontvang as beste Vispol-eenheid in die Tuinroete.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van Ladismith-polisie, is hulle ook verlede jaar tydens 'n geleentheid as naaswenners aangewys.
Cederas het by navraag gesê die skof is geweldig trots op hul prestasie en dank die Vader vir die voorreg.
"Die span is ook dankbaar vir die bestuur van Ladismith-polisiestasie vir die goeie leiding. Hulle strewe altyd om die behoeftes van die gemeenskap eerste te stel en sal altyd strewe om 'n veiliger omgewing vir die inwoners van Ladismith en Suid-Afrika te verseker."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’