LADISMITH NUUS - Ladismith-polisie ondersoek 'n klag van huisbraak met die opset om te steel en 'n klag van diefstal na daar by Spar ingebreek is.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die eienaar se seun die winkel op Vrydag 5 Oktober oopgesluit.
"Toe hy die kantoor binnegaan het hy gesien hoe deurmekaar dit is. Hy het dadelik onraad vermoed en sy pa gebel.
"Die polisie is gekontak en daar is vasgestel dat toegang verkry is deur die badkamervenster, aan die agterkant van die winkel, se diefwering weg te buig."
Volgens Cederas is daar sigarette, juwele, 'n skootrekenaar en kontant gesteel.
"Die totale waarde van die eiendom wat ge-steel is, is nog nie bekend nie. Die HP Hewlett Richard skootrekenaar is ongeveer R20 000 werd."
Enige inligting met betrekking tot die inbraak kan deurgegee word aan Ladismith-speurtak.
Skakel hulle by 028 551 8127 of die ondersoekbeampte, sers. David Moos by 028 551 8123.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'