TUINROETE NUUS - Twee polisiebeamptes verbonde aan die Mosselbaai-polisiestasie het kort nadat die insittendes van ‘n afleweringsvoertuig vanoggend op 28 Julie om 08:00 op die R328 naby Ruiterbos beroof is, ‘n man en vrou in verband met die gewapende roof in hegtenis geneem.
Die afleweringsvoertuig was op die Robinsonpas na Oudtshoorn onderweg toe ‘n voertuig met vier insittendes hulle van die pad afgedwing het.
Die verdagtes het vuurwapens gehad en het die slagoffers van goedere en ‘n onbekende bedrag kontant beroof waarna hulle gevlug het.
‘n Polisievoertuig wat vanaf Oudtshoorn na Mosselbaai onderweg was is deur die slagoffers voorgekeer waarna ‘n soektog na die verdagtes geloods is.
Twee Mosselbaai-polisiebeamptes het kort daarna die voertuig wat tydens die gewapende roof gebruik is, in Aslapark opgemerk en ‘n man en vrou tussen die ouderdom van 20 en 30 jaar in hegtenis geneem.
Die polisie is steeds opsoek na die ander twee verdagtes. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'