TUINROETE NUUS - Die Safer Festive Season-veldtog van die Wes-Kaapse polisie is steeds goed op dreef nadat dit tydens die feesseisoen geloods is en het op Kersdag verdere sukses behaal nadat daar onder meer in Bridgton ‘n man in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Luidens 'n verklaring uitgereik deur sers. Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, is hierdie misdaadbekampingveldtog, onder die tema "meer stewels op die grond", spesifiek daarop gefokus om gemeenskappe van onwettige vuurwapens wat 'n groot bedreiging vir die veiligheid van die publiek inhou, te verlos. Dit het op Kersdag gelei tot die konfiskering van twee ongelisensieerde vuurwapens in die Tuinroete.
Lede verbonde aan Misdaadintelligensie en die Oudtshoorn-misdaadvoorkomingseenheid het op Maandag, 25 Desember intelligensie bymekaargemaak en daarop reageer toe hulle toegesak het op 'n huis in 16de Laan, Bridgeton in Oudtshoorn, sê Spies.
"Die waaksame lede het die huis deursoek en 'n 38 Special Taurus-vuurwapen gevind wat in 'n kas in die slaapkamer versteek was. Hulle het beslag gelê op die vuurwapen en 'n 47-jarige man in hegtenis geneem op 'n aanklag van die onwettige besit van 'n vuurwapen," sê hy.
Later dieselfde dag, volgens Spies, het lede verbonde aan die Seegrens-eenheid wat langs die kuslyn ontplooi is, patrollies by Walvisstraat, De Bakke in Mosselbaai uitgevoer toe hulle 'n verdagte voertuig gewaar.
"Die span het die voertuig afgetrek en toe hulle dit deursoek het, 'n vuurwapen gevind. Die polisie het beslag gelê op die 7.65-pistool met een magasyn asook sewe rondtes ammunisie en die 50-jarige man in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie," sê Spies.
Beide verdagtes bly volgens Spies in polisie-aanhouding. Hulle het onlangs hul eerste hofverskynings in die onderskeie howe gemaak op die genoemde aanklagtes.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die pogings van die lede om vuurwapens uit die strate te verwyder, geprys. Hierdie beslagleggings is in ooreenstemming met die operasionele benadering en ontplooiing van polisiebeamptes om gemeenskappe van vuurwapens en dwelms te verlos, wat steeds die oorsaak van misdaad in die provinsie bly.
Die ontplooiing van meer stewels op die grond lewer goeie uitslae en dit sal vir die duur van die feestyd en daarna gehandhaaf word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’