OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n man van Oudtshoorn wat teregstaan op twee aanklagte van poging tot moord, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot volgende maand uitgestel.
Juan Steyn word daarvan aangekla dat hy meer as vier jaar gelede, op 20 April 2016, die lewens van Mei Willemse en Hendrik Mars, wat saam met hom by 'n motorwerktuigkundige in die dorp gewerk het, in gevaar gestel het deur diesel aan die brand te steek in 'n put onder 'n voertuig waaraan hulle gewerk het.
Mars het Woensdag, net soos Willemse vroeër, getuig dat Steyn aan hulle gesê het hy vuurhoutjies gaan soek om te kyk of hy, Mars, "een vuurhoutjie werd is".
"Die eerste vuurhoutjie het doodgegaan en die beskuldigde het toe 'n tweede aangesteek wat sy vingers gebrand het," het Mars getuig.
Volgens Mars het hy en Willemse toe albei brandwonde opgedoen waarvoor hulle hospitaalbehandeling moes ontvang.
Hy het ook getuig dat die beskuldigde se pa hulle R10 000 beloof het om stil te bly oor die voorval, maar dat hulle nie 'n sent gekry het nie. Hy het ook getuig dat hy, Willemse en Steyn goed oor die weg gekom het.
Steyn se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Mars gestel dat hy nie vrae wat aan hom gestel word beantwoord nie en sy weergawe voortdurend aanpas.
Hy praat nie die waarheid nie en sy getuienis verskil van dié van Willemse.
Nog 'n oudkollega van die beskuldigde, Jaco van der Merwe, het getuig dat hy nie alles kan onthou nie omdat dit so lank gelede gebeur het. Volgens hom het Steyn gesê hy maak net 'n grap dat hy mense aan die brand wou steek.
Willemse het getuig dat hy nie gesien het Steyn steek 'n vuurhoutjie aan nie, maar skielik vlamme op die grond gesien het.
Terwyl Steyn besig was om die vlamme dood te trap was daar 'n ontploffing in die put.
Willemse kon onder kruisverhoor nie verduidelik waarom hy eers ses maande na die voorval 'n saak by die polisie gaan lê het nie.
Volgens Van der Bergh sal Steyn getuig dat hy nie die betrokke oggend by die werk was nie omdat hy 'n begrafnis bygewoon het. Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla, en word op 15 Februarie voortgesit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'