OUDTSHOORN NUUS - Meer as 8 000 pasiënte is reeds landwyd behandel tydens Pediatric Care Africa se vrywillige mediese uitreikprojekte. Die 8 000 merk is verlede Saterdag, 8 November, behaal tydens hulle besoek aan Vlakteplaas Primêr buite De Rust op die Willowmore-pad.
Mediese- en tandheelkundige sorg is verleen aan volwassenes en kinders wat nie by dokters en tandartse kan uitkom nie.
Hierdie gratis dienste is moontlik gemaak deur mediese- en tandheelkundige praktisyns en vrywilligers. Die omvang van hulle diens word eers besef as in berekening gebring word dat normale konsultasiefooie vir mediese en tandheelkundige diens vir die 8 000 mense Pediatric Care Africa ongeveer R7,6 miljoen uit die sak sou jaag.
Joyce Kromvoets wat saam met haar man, dr. André Hattingh, Pediatric Care Africa gestig het, het Maandag die drie algemene praktisyns, die tandarts en elke vrywilliger bedank vir die diens wat hulle Saterdag gelewer het. Die dokters was dr. Steve Mcnally van Mosselbaai, dr. Anso Killian van De Rust en dr. Karla Talbot van Oudtshoorn. Die tandarts, dr. Chanel Biljohn, en haar span het 30 pasiënte met tandheelkundige probleme behandel.
Vrywilligers het gehelp met die registrasie van pasiënte en die uitdeel van medikasie uit die mobiele apteek wat met elke projek gebruik word.
Saterdag was ’n tipiese warm Karoodag met temperature wat by 36 grade gedraai het. Verversings is voorsien deur Demorian Appolis van die burgemeester se kantoor en haar span vrywilligers.
Hattingh (uitgetrede neurochirurg) en sy vrou woon tans in De Rust vanwaar verskeie Pedratic Care Africa-projekte van stapel gestuur word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’