OUDTSHOORN NUUS - Die ongeluk Vrydagoggend, 15 Mei, op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat tussen 'n ambulans van EMS en 'n klein afleweringsvoertuig het nie slegs verkeer vir 'n paar uur ontwrig nie, maar ook vrae vanuit die gemeenskap ontlok.
Vier persone is in die ongeluk beseer en vir behandeling na die naaste hospitaal geneem. Volgens inligting is die twee ambulanspersoneel, asook twee pasiënte wat in die ambulans was beseer.
By navraag aan adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het hy bevestig dat 'n saak van roekeloos en nalatige bestuur deur Oudtshoorn-polisie ondersoek word. "Volgens inligting het beide voertuie na die robot op die kruising beweeg toe hulle gebots het. Die ambulans het op sy sy beland."
Nooddienste wat ingesluit het provinsiale verkeer, asook Oudtshoorn-wetstoepassing moes noodgedwonge die pad toemaak terwyl opruiming plaasgevind het. Verkeersbeamptes het die verkeer beheer aangesien dit een van die besigste vierrigting-stoppe in Oudtshoorn is.
EMS
Shimoney Regter, EMS-dienste se woordvoerder het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat personeel verbonde aan EMS betrokke was in die ongeluk op 15 Mei. "Ons personeel is nie ernstig beseer nie, waarvoor ons dankbaar is. Ons moet egter beklemtoon dat wanneer 'n ambulans uitgeroep word personeel by magte is om noodtoestelle soos ligte en sirenes te gebruik." Volgens Regter is EMS in die proses om die omstandighede rondom die ongeluk te ondersoek aangesien hulle toegewyd is tot die veiligheid van hul personeel, asook die pasiënte.
GPF
Tydens 'n vergadering van Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op 5 Augustus 2025, is die kwessie rondom EMS-ambulanse bespreek. Dit het aan die lig gekom dat daar tans slegs drie EMS-ambulanse in Oudtshoorn is met 18 personeel wat diens doen. Hierdie ambulanse doen diens in die Klein-Karoo, asook die Tuinroete-distrik. Die GPF het op 23 September 2025 'n skrywe aan die minister van gesondheid en welstand gerig oor die tekort aan genoeg ambulanse en personeel in die Klein-Karoo, en veral Oudtshoorn. Tot op hede is geen terugvoer ontvang nie.
Gemeenskapsaktivis vertel
Glen Snyman, gemeenskapsaktivis was in gesprek met Oudtshoorn Courant oor die ongeluk. Snyman het navraag gerig of die ambulans met slegs rooi ligte en sonder sirenes gery het of nie aangesien die inligting nie heeltemal duidelik was ten tye van die ongeluk nie. Snyman het ook nie die ongeluk gesien gebeur nie, maar daarvan gehoor wat vrae by hom gebring het weens vorige voorvalle wat hy wel gesien het.
Snyman sê hy het op 6 April 2025 'n skrywe aan die EMS-dienste gerig oor sy kommer rakende ambulanse se bestuursgewoontes. In die skrywe noem hy dat hy 'n voorval ervaar het waar 'n ambulans op die hoek van Voortrekkerweg en Hoogstraat byna 'n ongeluk veroorsaak het.
"Die bakkie moes noodgedwonge binne die kruising stop sodat die ambulans, wat oor die rooi lig gery het, verby kan kom. Sy rooi noodligte was eers aangeskakel en toe afgeskakel."
Snyman het 'n voorstel gemaak dat ambulanspersoneel die noodligte en sirenes korrek gebruik anders weet padgebruikers nie wanneer dit werklik 'n noodgeval is nie. Hy noem verder dat dit die tweede voorval is wat hy aanskou waar 'n ambulans byna 'n groot ongeluk veroorsaak het.
"Vir die gemeenskap van Oudtshoorn is dit 'n groot verlies om 'n ambulans te verloor aangesien ons reeds nie genoeg ambulanse het nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’