OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n pa en sy seun wat van poging tot moord aangekla word, is in die streekhof vir verdere getuienis van 'n verdedigingsgetuie, wat erken het dat hy die oggend dwelms gebruik het, tot volgende jaar uitgestel.
Marcelino Goliath (29) en Piet Sederstroom (50) word daarvan aangekla dat hulle op 28 Augustus 2021 vir Henry Coetzee in sy opslaanhuis met 'n panga en byl aangeval het.
Johanna Seroux het getuig dat sy die beskuldigdes gesien het toe hulle met die wapens na Coetzee gestap het. Sy ken vir Goliath en het later gehoor Sederstroom se naam is Piet.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, voer aan dat Seroux 'n fout begaan omdat hulle nie op die toneel was nie en vra vir hul vryspraak,
Volgens die beskuldigdese was hy die betrokke dag erg onder die invloed van alkohol.
Norman Morris het Maandag getuig dat hy die klaer ken en hy 'n "groot bendeleier" is. Volgens hom gaan alles oor dwelmsmousery en dat Coetzee jaloers is op die twee beskuldigdes.
"Ek is nie hier om die beskuldigdes te beskerm nie, maar net om die waarheid te praat." Hy het erken dat die beskuldigdes ook met dwelms smous.
"Die klaer wil ontslae raak van hulle sodat hy meer winste kan maak," het Morris onder kruisverhoor getuig.
'n Tweede verdedigingsgetuie, Wayne Seroux, het getuig dat Coetzee sy vriend is, maar nie deur die beskuldigdes aangerand is nie. Hy het ontken dat die beskuldigdes hom geld aangebied het om in hul guns te getuig.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, verskil Seroux se getuienis hemelsbreed van sy verklaring aan die polisie.
Die verhoor is vir voortsetting uitgestel tot 24 Januarie 2023 en die beskuldigdes se borgtog en borgvoorwaardes is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'