OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit monitor steeds die huidige weerstoestande en die impak van die onlangse oorstromings in die Groter Oudtshoorn-gebied.
Die pad na die Kango-grotte bly tans gesluit. Die munisipale departement van paaie sal verdere assesserings uitvoer voordat daar met opruimingswerk voortgegaan, en bepaal word wanneer veilige toegang vir die publiek herstel kan word.
Die volgende laagwaterbrûe bly steeds gesluit: Albertstraat, Victoriastraat en Kerkstraat.
Laagwaterbrûe wat tans oop is, sluit in: Noordstraat, Rademeyerstraat, Bloemstraat, Vredestraat en St Johnstraat.
Inwoners word versoek om steeds versigtigheid aan die dag te lê wanneer laagwaterbrûe oorgesteek word, aangesien munisipale spanne voortdurend toestande monitor en rommel uit geaffekteerde gebiede verwyder.
Herstel van elektrisiteit
Eskom se spanne werk onverpoosd om die elektrisiteitstoevoer na landelike gebiede en munisipale dele te herstel. Voortgesette toegangsprobleme weens oorstromings en beskadigde paaie belemmer egter herstelwerk in sekere gebiede.
Rampbestuursreaksie
Rampbestuurspanne gaan voort om geaffekteerde gebiede te assesseer en basiese benodigdhede en ondersteuning aan gemeenskappe te voorsien wat steeds weens oorstromings en padsluitings afgesny is.
Die munisipaliteit het inwoners bedank vir hul volgehoue geduld, samewerking en ondersteuning gedurende hierdie uitdagende tydperk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’