Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Filmreeks waarin inwoners nie net hul talent ten toon stel nie, maar ook gesels oor dié besondere dorp en streek, word as deel van die aanlyn KKNK 2021 aangebied.
"Alhoewel gehore die afgelope twee jaar nie na Oudtshoorn kon kom vir die KKNK nie, bring ons nou die talent, stories en mense van Oudtshoorn na gehore regoor die land," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Bobaas storievertellers soos André Boezak, Tom Johnson, Hermanus Baadjies, en Theo Witbooi deel van hul gunsteling stories oor die Karoo; Hannes Visser, Susan Ongansie en Endus Wessels lees van hul gedigte voor wat in die pandemie-digbundel Maskers en mure verskyn; Danny B (Denver Manuel), Tiffany Saterdaght, Noemwoord (Janion Kennedy) en Oom Japsnoet gesels oor die Oudtshoorn rymklets-kultuur en lewer van hulle eie werk; DaVinci (Leonardo Kiewiets) deel sy liefde vir dans en die Kallieklip Stoftrappers (Calitzdorp Rieldansers) deel ook die ryk tradisie van rieldans in die streek; Alison Moos (operasionele bestuurder van die Kango-grotte) en Steven Mouton (hoofgids van die grotte) vertel oor hul tyd by dié ikoniese toeriste-aantreklikheid en hul deel interessante inligting oor die grotte waarvan min mense weet.
Tiffany Saterdaght en ander kunstenaars gesels oor die Oudtshoorn rymklets-kultuur
Die reeks sluit 'n roerende huldeblyk in waarin dr. David Piedt onthou word.
Morné Pietersen, Rosie Schoeman, Franklin Sonn, Hans van der Veen, André Boezak, Liesel le Roux, Jaco Vorster en dr. Piedt se vrou - Marjorie - gesels oor die reuse-invloed wat hy op hul lewens en die Oudtshoorn-gemeenskap gehad het. Dr. David Piedt se storie is 'n voorbeeld van hoe een mens 'n impak en verskil aan 'n gemeenskap kan maak.
Liesel le Roux en ander gesels oor die invloed wat dr. David Piedt op hul lewens en die Oudtshoorn-gemeenskap gehad het.
Om Oudtshoorn se mense te kyk, besoek die KKNK se YouTube-kanaal en volg ook die KKNK op sosiale media.
Vorige artikel: Oudtshoorn-mense skitter in KKNK reeks
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'