OUDTSHOORN NUUS - Thembakuye Tu, 'n leerder van Fezekile Sekondêr in Bongolethu, is een van die finaliste van die Dramaweb SA se aanlyn dramakompetisie. Sy het vir die gr. 11 tot 12 Engelse-kategorie ingeskryf.
Inskrywings vir Dramaweb SA, aangebied in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en met ondersteuning van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), het vanjaar landwyd ingestroom en is deur die beoordelaars gekyk, geniet en beoordeel.
"Na 'n wonderlike tyd van sweet en terugvoer skryf, is die beoordelaars werklik geïnspireer deur die talent in ons land," sê Ira Blanckenberg, eienaar van Dramaweb SA.
"Dramaweb SA wil jong akteurs se talente vier, maar ook help om jong mense te slyp vir hul pad vorentoe. Alle kinders wat aan dramakompetisies deelneem, gaan nie noodwendig professionele akteurs word nie, maar neem die vaardighede saam met hulle - waaronder selfvertroue, dissipline en kreatiewe denke, asook kommunikasievaardighede."
Deelnemers kon in Engels en Afrikaans deelneem in verskeie soorte items - ongedramatiseerde gedig en/of prosa, gedramatiseerde gedig en/of prosa, voorbereide lees, monoloog en selfs mimiek.
Vir die KKNK lê dié vennootskap na aan die hart. "Ons leef in ontwrigtende tye en jongmense het 'n uitlaatklep nodig," sê Hugo Theart, die artistieke direkteur. "Die kunste bied 'n geleentheid vir ontvlugting. Dit is nie net 'n geleentheid vir jongmense wat in die toekoms professioneel by die uitvoerende kunste betrokke wil raak nie, maar is ’n platform om ’n liefde vir letterkunde en die kunste te kweek."
Die kompetisie word deur regstreekse stroming uitgesaai.
Op Saterdag 3 Julie kry leerders van die Afrikaanse kategorie die geleentheid om hul dramastukke op te voer. Die leerders wat ingeskryf het vir die Engelse kategorie sal Sondag 4 Julie geleentheid kry.
Die finaal sal op albei dae regstreeks gestroom word vanaf dramawebsa.co.za. Vier beoordelaars sal die optredes evalueer.
Die program lyk só:
09:00 Graad RR tot 1
10:00 Graad 2 tot 4
11:00 Graad 5 tot 7
Middagete
13:00 Graad 8 tot 10
15:00 Graad 11 tot 12
17:30 Regstreekse aankondiging van die wenners in elke kategorie en prysuitdeling.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'