"Ek het gedink iemand skeer gek en het sommer vir die persoon gesê hy moenie probeer snaaks wees nie, maar toe besef ek die man is ernstig. Ek was so opgewonde ek kon nie eers my ID onthou nie en moes gaan kyk het toe hulle dit vir my vra."
Gollie is verlede week Kaapstad toe om die motor, 'n bloedrooi VW Up! te gaan haal. Hy moes sy skoonpa vra om saam met hom te gaan aangesien Gollie nog nie 'n rybewys het nie. "Ek het nog nooit in my lewe 'n kar besit nie, so nou sal ek ernstig moet begin om 'n lisensie te kry."
Intussen, sê hy, bestuur sy skoonpa die motor.
Die Oudtshoorn Courant was Maandag by toe die takbestuurder van Shoprite, Jaco Landsberg, die motor se sleutel aan Gollie oorhandig het. Kennisse van Gollie wat toevallig verbygestap het, het nuuskierig nadergestaan om die blinknuwe motor te bekyk en Gollie op die skouer te klop.
"Wat dit vir my nog meer spesiaal maak is dat ek net een strokie in die houer gegooi het. Ek ken mense wat al dosyne strokies ingegooi het en daar word my enkele een getrek," het hy met 'n breë glimlag gesê.
