OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-belastingbetalersvereniging het op Dinsdagaand, 12 Augustus, ’n vergadering gehou om die toekomstige rigting en werkswyse van die drukgroep te bespreek.
Jacques Wessels, voorsitter van die George-belastingbetalersvereniging, het as gasspreker opgetree en waardevolle advies gedeel oor hoe die vereniging se struktuur versterk kan word.
“Raak proaktief betrokke, maak ’n verskil, maar onthou altyd om gesamentlike aanspreeklikheid na te streef,” het Wessels gesê. “Dit is noodsaaklik om ’n werkbare metodiek daar te stel wat positiewe resultate kan lewer vir enige munisipale kwessies wat deur lede geopper word.”
Hy het verder beklemtoon dat die organisasie apolities moet bly, demokraties moet optree en kernwaardes moet handhaaf.
“Konflik los niks op nie. Komiteelede moet verstaan dat die meeste lede se probleme ook hulle eie is.
Met struktuur en ’n duidelike metodiek kan slegs positiewe resultate behaal word. Ja, dit is nie ’n maklike of gewilde taak nie, maar om die stem van ’n gemeenskap te wees, is ’n belangrike verantwoordelikheid,” het hy gesê.
Volgens Wessels verg baie kwessies wat aandag moet kry ’n langtermynbenadering. “Wie betrokke wil wees by ’n drukgroep, moet bereid wees om aan te hou totdat die gewenste resultate bereik word.”
Jacques Wessels, voorsitter van die George Ratepayers Association. Foto: Louise Mouton
Nuwe bestuur
Na afloop van die bespreking is besluit om ’n nuwe komitee aan te wys:
Voorsitter: Donny Marais
Ondervoorsitter: Wilhelm Geldenhuys
Sekretaris: Gilliam Croucamp
Tesourier: Freek de Lange
Addisionele lede: James Stokes en Riana Geldenhuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’