OUDTSHOORN NUUS - Die oudonderwyser en skrywer, Susan Ongansie, het haar debuutroman, Kruispad, Saterdagoggend 27 Junie by die Neelsie-teater in Oudtshoorn bekendgestel.
Volgens Ongansie is die boek deels outobiografies en deels fiktief.
Die leser volg die hoofkarakter, Drien, deur haar lewe vanaf haar kinderjare tot met volwassenheid en beleef die karakter se uitdagings en struikelblokke, maar ook haar oorwinnings.
Ongansie sê die boek is nie bloot 'n storie wat sy wou vertel nie, maar ook 'n manier om mense te bemoedig. "Ek sien die boek as 'n aansporing vir mense met 'n lae selfbeeld en emosionele letsels om op te staan en plek te maak vir liefde in hul lewens. Hulle moenie bang wees om liefde te aanvaar en te ervaar nie."
Sy sê sy het in 2015, toe sy na Oudtshoorn verhuis het, aan die boek begin werk. "Om 'n boek te skryf is baie werk. Ek het groot dele herskryf en met die leiding van my uitgewer het ek die manuskrip verbeter en verfyn totdat dit uiteindelik gereed was vir publikasie," het sy Saterdag gesê.
Haar seun, Dennis Ongansie, het die gaste Saterdag verwelkom en gesê sy ma stel nie in enigiets anders belang as opvoeding, haar geloof en stories nie. "Maak nie saak waaroor mens wil gesels nie, sy kom altyd terug na stories toe."
Kruispad is Susan se eerste volwasse roman, maar gepubliseerde skryfwerk is nie vir haar vreemd nie.
Haar kinderboek, Kattekwaad, het in 2017 by Lapa verskyn, en van haar kortverhale en gedigte het ook al in saamgestelde publikasies verskyn.
Een van haar mees treffende gedigte is in 2020 in die bloemlesing Maskers en mure opgeneem.
Vir dié publikasie is digters genooi om pandemie-gedigte voor te lê vir keuring, en ongeveer 100 gedigte is uiteindelik uit bykans 700 gekeur vir publikasie.
Op die vraag of Ongansie tans aan nog 'n boek werk, het sy gesê sy is besig met 'n reeks Bybelstories vir kinders wat sy graag as 'n Kinderbybel die lig wil laat sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’