OUDTSHOORN NUUS - Ben Vrey Snr, die sakeman wat in 2012 op vier klagtes van seksuele teistering in hegtenis geneem is se verhoor het Dinsdag en Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof voortgegaan.
Drie van die klaagsters is kelnerinne wat vir hom gewerk het en die ander is 'n meisie wat toe 13 was. Adv. Alfred Schmidt het in opdrag van Vrey se prokureur, mnr. Louis Oosthuizen, in dié twee dae opgetree.
Berna Terblanche, Vrey se voormalige sekretaresse en Niel Skippers, 'n kontrakteur by Vrey se boumaatskappy, het Dinsdag vir die verdediging getuig.
Skippers se getuienis het Woensdag voortgegaan waar hy getuig het dat Vrey se voormalige vrou hom met Vrey se klere en skoene omgekoop het om haar iets van Vrey te vertel.
"Haar spesifieke woorde was dat sy wil weet of hy met ander vroue vry. Sy het tot by die bouperseel gekom en met my, Kobus Willemse, en nog 'n man gepraat en dit gevra. Ons het vir haar gesê ons weet niks nie. Sy is by die trappe af en het gery," het hy getuig.
Volgens hom het Vrey se gewese vrou hom huis toe gevat nadat hy vir haar in die tuin gewerk het en sy het hom probeer omkoop met klere en skoene om inligting oor Vrey aan haar bekend te maak. Hy het egter geweier. Sy het volgens sy getuienis twee dae later weer teruggekom en Willemse se vrou probeer oortuig om Vrey vir seksuele molestering aan te kla. Sy het egter gesê sy het Vrey nog nooit ontmoet nie en dat sy nie eens weet hoe hy lyk nie.
Hy het ook getuig dat sy hom en sy vrou genader het voor die meisies die klagtes teen Vrey gaan lê het.
Adv. Michelle Weyers wat vir die staat optree het vir Skippers gesê sy dink hy vertel 'n leuen omdat sy getuienis nie konstant was nie en dat hy vir Vrey wil beskerm omdat hy bang is hy verloor sy werk. Skippers het die bewering ontken.
Kobus Willemse, ook 'n kontrakteur by die boumaatskappy, het ook Woensdag getuig. Volgens hom het Vrey se gewese vrou na die perseel waar hulle besig was gery en hulle nader geroep.
"Ons het nader geloop en na sy gevra het hoe dit gaan het sy gevra of ons nie vir haar wil vertel of mnr. Vrey met ander vroue vry nie. Ons het gesê ons weet niks. Die ander man wat by was het egter gesê dat as sy vir hom betaal sal hy vir haar inligting gee. Sy het gesê dat sy eendag 'n groot klip uit ons paaie sal rol as ons haar help. Daarna het sy gery," het hy getuig.
Willemse het getuig dat sy hom ook met klere probeer omkoop het en dat sy ook oproepe na hom toe gemaak het om hom te vra vir inligting.
Weyers het weereens die getuienis in twyfel getrek.
"Jou en mnr. Skippers se getuienis stem nie ooreen nie. Jy sê sy het in haar kar sit en praat en mnr. Skippers sê sy het opgeloop na die bou-perseel toe. Skippers het ook nie gesê dat die ander man geld wou hê vir inligting nie."
Mina Adoons was die laaste getuie vir die dag. Sy het getuig dat sy by Vrey en sy gewese vrou in die huis gewerk het en dat sy ook vir Adoons probeer oortuig het om 'n saak van molestering teen Very te maak.
Sy het ook getuig dat Vrey se verhouding met die 13-jarige meisie goed was en dat daar geen probleme tussen hulle was nie.
Verder het sy getuig dat sy kon agterkom dat Vrey se gewese vrou mettertyd snaaks begin raak het en geheimsinnige oproepe geneem het waarna sy dadelik gery het. Volgens haar het Vrey en sy gewese vrou uit mekaar gegaan en sy het vir Vrey gaan werk.
"In die tyd het mevrou baie gestop as sy my gesien het en my dan probeer oortuig om wel die klag te gaan lê. Sy het ook vir meneer vertel dat ek haar vertel het dat hy aan my gevat het, maar ek het dit nooit gesê nie. Toe hulle weer later saam was wou sy nie hê ek moes weer daar gaan werk nie. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek het haar niks gemaak nie. Dit is toe dat ek vir meneer vertel dat sy gesê het ek moet 'n klag van molestering teen hom maak," het sy getuig.
Weyers het aangevoer dat Adoons nie van Vrey se gewese vrou hou nie en dat sy enigiets sal sê om haar sleg te laat lyk om vir Vrey te beskerm. Ook dat sy niks van die kelnerinne weet en of Vrey aan hulle gevat het of nie.
Landdros Daniel Boks het die saak tot 10 April uitgestel. Die verhoor sal dan voortgaan.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'