OUDTSHOORN NUUS - As daar een entrepreneur op Oudtshoorn is wat permanent lag en altyd positief is, is dit Pieter du Plessis.
Pieter is 26 jaar gelede op sewe maande gebore en die vroeë geboorte het hom en sy gesin met vele uitdagings gelaat. Maar, geen spesiale behoefte of inperking kry die man onder nie.
Met die hulp van sy ma, Gerna Nortier, het hy in 2017 begin om krale in te ryg en na sy eerste groot bestelling is P Beadz gebore.
Toevallig het 'n Saterdagmark kort daarna langs die museum begin. Pieter was een van die stalletjiehouers wat elke markdag bygewoon het en anders as sommige ander uitstallers het hy nooit gekla oor 'n stil dag nie.
"Hy het elke Saterdag spesiaal met 'n groot drukkie kom dankie sê en al was sy verkope nie waffers nie het hy gesê dis goeie blootstelling en dit hou hom besig," het die organiseerder van die mark gesê.
Toe die mark aan die begin van 2018 doodloop as gevolg van swak plaaslike ondersteuning, het Pieter eenvoudig ander afsetplekke gesoek.
"Ek stal by kerke se basaars uit, ek stal by ouetehuise uit en op enige plek waar daar mense is, en dit het al so besig geraak dat ek vir drie winkels krale en borsspelde en serpe maak," sê hy.
Volgens Gerna was Pieter se heel eerste kliënt in 2017 sy pre-primêre onderwyseres van meer as 16 jaar gelede. "Chantelle woon nou in Engeland, maar sy het Pieter se krale op Facebook gesien en sommer die hele lot gekoop. Dit was vir Pieter 'n geweldige groot kompliment en van toe af is daar geen keer aan hom nie."
Volgens haar brei Pieter gereeld sy reeks uit. " Terwyl ek by die werk is, is hy by die huis besig om krale te maak, maar dikwels as ek by die huis kom wys hy my 'n nuwe idee wat hy op die internet gekry het en dan help ek hom met die ontwerp en met die pryse."
Pieter het aanvanklik 'n winkelpop gebruik om die lengte van die stringe krale te bepaal, maar deesdae is hy al so seker van sy saak hy weet presies watter lengtes om te maak en wat die smake van verskillende kliënte is.
Met 'n besoek aan hulle huis hierdie week was dit duidelik dat Pieter hom nie deur omstandighede laat onderkry nie, en skaam is hy beslis nie. As hy eers begin praat borrel en lag hy deurentyd en op die vraag waarom hy die krale maak is sy reaksie nie oor 'n verdienste nie maar eerder oor die feit dat hy dit geniet om besig te wees.
Hy en sy ma sê hulle probeer soveel krale as moontlik plaaslik aankoop, maar dat die verskeidenheid beperk is en dat hulle dan van elders moet bestel. Nog 'n uitdaging is die gevaar dat mense Pieter se produkte na-aap.
"Dis nogal frustrerend as Pieter 'n nuwe ontwerp maak en kort daarna copy iemand anders dit, maar dit is mos maar deel van die vryemarksisteem," sê Gerna.
Dat inwoners trots is op Pieter blyk duidelik uit kommentare op Facebook nadat Pieter se storie aanlyn geplaas is. Iemand in Oudtshoorn wat self met krale gewerk het, het al haar voorraad aan Pieter geskenk nadat sy die aanlynberig gelees het.
Pieter du Plessis en sy ma, Gerna Nortier by sy stalletjie voorverlede week tydens 'n ope dag op die staatsveearts se perseel. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'