Werkers by die sandwerke in Rademeyerstraat het Donderdag die munisipaliteit verwittig dat die reuse rioolpyp wat aan die ou treinbrug oor die Grobbelaarsrivier vasgeheg is middeldeur gebreek het en dat riool in die rivier instroom.
By nadere ondersoek is bevind dat diewe stelselmatig 'n hele klomp ysterstutte en gespes wat die pyp aan die brug vasheg afgesaag het. 'n Groot deel van die pyp het afgebreek en op die rivieroewer beland. Inwoners het glo alreeds verlede Maandag gesien dat mense op die brug doenig is.
Daar was Donderdagmiddag bitter min wat gedoen kon word om die pyp te herstel aangesien nuwe stutte eers deur Van Antwerp Sweiswerke vervaardig moes word. Die Grobbelaarsrivier mond kort anderkant die brug in die Olifantsrivier uit en boere langs die Olifants is in kennis gestel dat die water besoedel word.
Teen Vrydagoggend het munisipale werkers reeds twee toegangspaaie na die brug oopgestoot en 'n groot boom verwyder om plek te maak vir 'n hyskraan waarmee die pyp weer in posisie gelig moes word. Die ingewikkelde proses om die pyp te vervang terwyl riool wat van die hele westelike deel van Oudtshoorn kom afgekeer moet word is eers Saterdag voltooi.
In 'n persverklaring het die munisipaliteit Dinsdag gesê dat die skade aan die pyp meer as R50 000 beloop het. Volgens die verklaring was daar geen aanmeldings van gesondheidsgevare nie en daar sal binnekort begin word om die rivier skoon te maak.
Die polisie het Vrydag bevestig dat 'n 36-jarige verdagte gearresteer is op 'n klag van saakbeskadiging en diefstal. Dit is egter onbekend hoeveel van die stutte met hom verbind kan word aangesien stutte wat nie by die beskadigde gedeelte van die pyp was nie ook oor 'n tydperk afgesaag en gesteel is.
Werknemers van Van Antwerp Sweiswerke en die munsipaliteit het vir bykans twee dae geswoeg om die pyp te herstel en moes soms hoog bo die grond werskaf.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'