OUDTSHOORN NUUS - Verbruikers wat munisipale skuld van 150 dae en ouer het, kan groot verligting kry as hulle 60% van die skuld eenmalig aflos.
In 'n mediaverklaring wat Dinsdag 12 Mei uitgereik is, sê die munisipaliteit die raad het 'n aansporingsprogram waarvolgens verbruikers hul skuld kan vereffen, goedgekeur.
Daar is duidelike voorwaardes gekoppel aan die aansporingsprogram:
• Die tydperk duur vanaf Mei tot Augustus 2026
• Dit is net van toepassing op skuld wat voor 30 November 2025 aangegaan is.
• Verbruikers moet 60% van hul uitstaande skuld in 'n eenmalige betaling delg.
• As 60% van die skuld gedelg is, sal die munisipaliteit die oorblywende 40% afskryf.
Die aansporingsprogram is vir residensiële verbruikers, verbruikers van landelike water, besighede, kerke en skuld wat reeds aan prokureurs oorhandig is.
Die program is nie van toepassing wanneer eiendomme verkoop word waar 'n uitklaringsertifikaat vir die oordrag van eiendomme vereis word nie. In sulke gevalle moet die skuld ten volle gedelg word alvorens die oordrag van die eiendom kan plaasvind.
Volgens die verklaring vorm die inisiatief deel van die raad se voortdurende pogings om verbruikers finansieel te ondersteun terwyl inkomste-invordering verbeter word om volhoubare dienslewering te verseker.
Alle voorwaardes soos hierbo aangedui, moet nagekom word voordat inwoners in aanmerking kom vir die afskrywing van 'n 40% gedeelte van die skuld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’