OUDTSHOORN NUUS - Alan Wright, maatskaplike program-bestuurder van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se Wes-Kaapse streekkantoor, het Oudtshoorn onlangs besoek sodat hy met die wyksraadslede en wykskomiteelede oor die departement van gesondheid se opgraderings by die Oudtshoorn-hospitaal en -kliniek kan gesels.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was die objektief van die sessie om die sosiale fasiliteringsproses wat geïmplementeer gaan word ter ondersteuning van die projekte, die skakeling met die gemeenskap met die keuring van gemeenskapslede om op die projekbestuurskomitee te dien, asook die identifisering van gemeenskapslede wat belangstel om aansoek te doen vir die posisie as gemeenskapskakelbeampte op die projek, te verduidelik.
Mle sê die pligte van die projekbestuurs-komitee sal wees om saam met die kontrakteur te werk om te verseker dat die projek betyds afgehandel sal word, kostedoeltreffend sal wees en goeie kwaliteit geïmplementeer sal word.
"Die opgradering van die hospitaal en kliniek sal werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap skep. Die deelnemers aan die sessie was vasbeslote dat die bestuurskomitee nie deur politiek beïnvloed moet word nie. Die bestuurskomitee sal deel wees van terreinvergaderings vir die aanstelling van werkers en ook wanneer dit kom by spesifieke vaardighede wat werkers behoort te hê. Die finale besluit sal egter deur die kontrakteur geneem word."
Na suksesvolle samesprekings is besluit dat die bestuurskomitee op 'n later stadium verkies sal word.
'n Kontrakteur sal deur middel van 'n tenderproses wat deur die Onafhanklike Ontwikkelingstrust bestuur word, aangestel word om die bestaande Oudtshoorn-hospitaal en Oudtshoorn-kliniek op te gradeer.
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die departement van gesondheid oor die verwikkelinge gestuur. 'n Opvolg berig sal geplaas word sodra 'n antwoord ontvang is.
Alan Wright gesels met die lede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’