OUDTSHOORN NUUS - Besoekers aan die 30ste KKNK kan gerus wees dat hulle veiligheid in goeie hande is en dat die polisie vir enige gebeurlikheid slaggereed is.
Kol. Winston Kiewiets, Oudtshoorn se hoof van sigbare polisiëring en bevel-voerder van die KKNK se gesamentlike operasionele sentrum (GOS), het die versekering gegee dat hulle goed voorbereid is vir vanjaar se KKNK wat beloof om 'n grote te wees.
"Ons is reeds vanaf Desember besig om alles in plek te kry en seker te maak dat al die rolspelers wat by veiligheid en sekuriteit van die KKNK betrokke is, saamwerk en saam beplan. Die afgelope maand het ons weeklikse vergaderings en sessies om elke moontlike gebeurlikheid te voorsien en daarvoor te beplan," het hy Dinsdag gesê.
Hy sê dat daar uitstekende samewerking is tussen die polisie, KKNK se personeel, sekerheidsmaatskappye, reddingsdienste, mediese instansies, munisipale wetstoe-passers, verkeersafdeling, provinsiale verkeer, die SA Weermag en ook die departement van sosiale ontwikkeling.
Die goeie nuus is dat 30 polisielede, wat verlede jaar hul opleiding voltooi het, ook deel van die ontplooiing by die KKNK sal wees. "Die lede het reeds in Desember en Februarie by ons aangesluit en hulle is reeds vertroud met Oudtshoorn en ons uitdagings."
Kiewiets sê inwoners sal reeds van hierdie week af die tekens begin sien dat die fees op hande is.
"Binnekort gaan die terreine voorberei word, tente sal opgeslaan word en sommige strate sal gesluit word. Ons wil by voorbaat die publiek vir hulle samewerking tydens die fees bedank. My groot waardering ook aan al die rolspelers wat elke vergadering en beplanningsessie bywoon."
Kiewiets benadruk die feit dat die polisie se normale verpligtinge teenoor die gemeenskap tydens die fees ook nog moet voortgaan.
Die GOS word 24 uur per dag tydens die KKNK beman en word weer soos met vorige feeste in die koukuskamer op die onderste verdieping van die munisipale gebou agter die burgersentrum ingerig. Toegang tot die GOS is vanaf die Vredestraat-hek. Dit dien as die sentrale punt vir alle logistieke inligting, onderhoudswerk en ontruiming.
Die GOS kan tydens die KKNK by 076 492 5960 gekontak word.
Buiten 'n noodhulppunt by die GOS is daar ook noodhulppunte op die feesterrein en op die grasperk langs die CP Nel-museum.
Vir mediese bystand kan feesgangers die noodhulppunte ook by 076 492 5960 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’