Breaking News Video
OUDTSHOORN NUUS - Odin (Oudtshoorn Dogs In Need) het Woensdagoggend, 25 Maart, ’n paar benoude oomblikke beleef toe hulle vroegoggend agtergekom het dat een van hul vrywilligers, Anja Wilderness, nie by Middelplaas was soos gewoonlik nie.
Hulle het dadelik onraad vermoed en begin soek.
Nadat hulle begin rondry het, het hulle haar voertuig in die middel van die rivier opgemerk en dadelik Dysselsdorp-polisie en vir Mornay Thysse van Oudtshoorn-brandweer vir hulp gekontak.
Hulle het intussen vir Wilderness uit die water gekry en gekalmeer aangesien sy histeries was omdat haar hond, Horlicks, iewers in die rivier was.
Toe Thysse op die toneel kom, het hy dadelik ingespring en begin soek en ’n kort tydjie gelede vir Horlicks ongedeerd uit die water gehaal.
Wilderness, asook Odin se personeel was ongelooflik verlig en dankbaar dat die situasie nie in ’n tragedie verander het nie. Die polisie en brandweer is steeds op die toneel.
VIDEO: Reddingspogings vir Odin-vrywilliger
Volgens Colleen Smith van Odin het Wilderness haar gebruiklike roete via Langkloof na Middelplaas gery, waar sy oor ’n drif ry om met die honde te gaan stap.
“Volgens haar het die water haar voertuig baie vinnig geskep en het sy in die rivier beland, sy het dadelik vir Horlicks uit die voertuig gegooi en toe self probeer uitkom, maar het toe besef sy kry nie die hond nie. Ons is ongelooflik dankbaar vir Thysse, asook Dysselsdorp-polisie vir hul onmiddellike bystand en hulp.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’