Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Cango Wildlife Ranch het onlangs vier jagluiperdwelpies en ses poukuikens ryker geword.
Volgens Tammy Moult, assistentdirekteur by die Ranch, is die koms van die welpies 'n belangrike bydrae tot die wêreldwye bewaring van hierdie bedreigde spesie.
Cango Wildlife Ranch is 'n fasiliteit wat internasionaal erken word deur sy akkreditasie van die African Association of Zoos & Aquaria (PAAZA). Hierdie toekenning beklemtoon hul toewyding tot die hoogste standaarde van bewaring en etiese praktyke. Vir byna vier dekades het Cango Wildlife Ranch onverpoos gewerk aan die bewaring van jagluiperds en ander bedreigde spesies. As een van die vyf grootste jagluiperdsentrums ter wêreld, speel die Ranch 'n sleutelrol in die beskerming en voortbestaan van hierdie ikoniese diere.
Cango Wildlife Ranch het oor die jare wêreldwye erkenning gekry vir sy uitsonderlike telingprogramme, met die hoogste oorlewingsyfer van jagluiperdwelpies wat internasionaal geproduseer word.
Die Cheetah Preservation Foundation, wat in 1988 gestig is, dien as die ruggraat van hierdie pogings. Die stigting se hoofdoel is nie net om die voortbestaan van die jagluiperd en ander bedreigde spesies te verseker nie, maar ook om besoekers op te voed oor die uitdagings wat hierdie diere mee te kampe het.
Moult sê verder as eerste keer-ma het Uzuri ongelooflike sorg en toewyding getoon in die versorging van haar vier welpies, wat Zuko, Zorro, Zuri, en Zues gedoop is.
"Haar versorgers is geweldig trots op haar en die vordering wat sy maak met die versorging van haar welpies."
Moult verduidelik dat 2024 vir hulle 'n uitdagende jaar was, veral met Junie se vloede waar die Ranch baie skade gely het.
"Ons eerste prioriteit was om die diere veilig en droog te hou. Die volgende uitdaging was om alle kampe met skade te herstel."
Terwyl Uzuri se welpies reeds 'n hoogtepunt van die jaar was, is hulle weer die jaar verras toe hulle dié week ses donsige poukuikens verwelkom het.
"Die kuikens bring nuwe energie en vreugde na die reservaat en herinner ons aan die natuur se vermoë om voort te leef en te herstel. Dit is 'n bewys dat, ondanks uitdagings, die natuur altyd bly verras en hoop bring."
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’