OUDTSHOORN NUUS - "Ek is trots om te sê dat ek deel is van die Oudtshoorn Courant-span. Dit is 'n dorp en koerant ryk aan geskiedenis en dit is 'n eer om in CJ Langenhoven se voetspore te volg."
So sê Hugo Redelinghuys, die nuutaangestelde redakteur van die Oudtshoorn Courant.
Redelinghuys het die week by die koerant aangesluit en is opgewonde om 'n nuwe avontuur in dié Karoo-dorp te begin.
Hy het hope ervaring in die gemeenskapskoerantbedryf en het vir bykans 10 jaar as sportredakteur by die George Herald, Oudtshoorn Courant se susterskoerant, gewerk.
Die laaste jaar was hy die redakteur in Graaff-Reinet, 'n pos wat hy nog steeds sal beklee.
Redelinghuys het ook vir 25 jaar by Sanlam as bestuurder: mediabetrekkinge in Belville gewerk.
"Ek het die gemeenskapskoerantkompetisie by Sanlam begin en hierdeur geweldig baie kontak met verskeie gemeenskapskoerante gehad. Toe ek by Sanlam klaar maak het ek geweet dit is waar my hart lê en het ek as sportjoernalis vir George Herald gewerk waarna ek sportredakteur geword het."
Redelinghuys sê gemeenskapskoerante speel 'n ongelooflike groot rol in gemeenskappe.
"Ek is positief en opgewonde oor die pad van gemeenskapskoerante, veral Oudtshoorn Courant. Dit is vir my nog lekkerder om op so 'n manier deel van 'n gemeenskap te word. Die dorp is ryk aan geskiedenis en loop oor van talentvolle, vriendelike mense. Die koerant behoort aan die einde van die dag aan die gemeenskap. Hulle dra by tot die nuus en hulle maak ook die nuus. Ek sien uit daarna om die mense te leer ken en hulle stories aan die gemeenskap oor te dra."
Hy nooi enigiemand met nuusbrokkies uit om hom by 082 440 6631 of hugo@groupeditors.co.za te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'