KAROO NUUS - Sy topprioriteite is 'n finansieel volhoubare munisipaliteit en uitmuntende dienslewering.
So sê Sidney Koonthea (DA), nuwe onderburgemeester van Prins Albert. Hy is onbestrede tot dié posisie verkies in die plek van Stoffel Botes (DA) wat drie maande gelede onverwags gesterf het.
Koonthea, wat ook 'n paramedikus is, het Botes in sy laaste oomblikke bygestaan nadat hy 'n hartaanval in die raadsaal gekry het.
Die DA vorm steeds die meerderheid in die raad van sewe, nadat Neville Claassen (DA) as nuwe raadslid aangewys is. Die ander twee DA-raadslede is Linda Jaquet (burgemeester) en Margy Jaftha.
Volgens Koonthea is "finansiële volhoubaarheid en die heel beste dienslewering my fokuspunte, so ook dat ons 'n deursigtige munisipaliteit moet wees, met gevolglike goeie bestuur en aanspreeklikheid. Dit is die basiese beginsels waarvolgens ons moet werk. Enige sweempie van nice to have moet gekeer word."
Ander belangrike doelwitte vir hom is werkskepping, doeltreffende afval- en omgewingsbestuur, die skep van veilige gemeenskappe, deursigtige en verantwoordbare regering, 'n oopdeurbeleid vir alle inwoners van die dorp, en om te sorg dat die relatief klein munisipale begroting so ver moontlik gerek word om in alle behoeftes te voorsien. "Bo alles bly ekonomiese groei van die allergrootste belang."
Sharna Fernandez, DA-kies-afdelingshoof van die gebied, sê haar party is trots daarop dat Koonthea verlede week as uitvoerende onderburgemeester aangewys is.
"Die verkiesing van die nuwe onder-burgemeester volg op die insweer van Neville Claassen as DA-raadslid. As inwoner van Prins Albert wat al lank deel is van die gemeenskap, bring hy belangrike leierskapervaring na die tafel, saam met kennis van gemeenskapskwessies. Die DA verwelkom raadslid Claassen in die span en ons is vol vertroue dat hy sy taak met passie en integriteit sal verrig.
"Terselfdertyd wens ons onderburgemeester Koonthea geluk met sy verkiesing. Ons vertrou dat hy waarde sal toevoeg tot al die leierskapsinisiatiewe van die uitvoerende dorpsbestuur – want dit is wat Prins Albert die bes bestuurder munisipaliteit in die Sentraal-Karoo maak."
Fernandez sê ná 'n harde stryd in die tussenverkiesing in September verlede jaar, toe Jaftha as DA-raadslid van wyk 4 aangewys is, "het Prins Albert die eerste DA-bestuurde munisipaliteit in die distrik geword; een wat stabiliteit en finansiële dissipline in die omgewing verseker, saam met uitmuntende dienslewering aan alle inwoners."
Van regs is Sidney Koonthea, Vanessa Botha en minister Anroux Marais.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’