OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn en De Rust Toerisme het Woensdagaand die jaar afgesluit met ‘n funksie by Highgate Volstruis-skouplaas op Volmoed.
Danielia Fourie, ondervoorsitter van die Toerismeraad, het enkele 2017 hoogtepunte toegelig, soos dat ‘n generiese DVD van Oudtshoorn se toerisme-aantreklikhede vroeg in 2018 beskikbaar sal wees.
Sy het ook die 2017 Vakansiegids bekendgestel wat op 16 Desember aan besoekers uit die binneland uitgedeel sal word.
Nuwe drankwet
Christo van der Bergh, van Coetzee en Van der Bergh Prokureurs, het gaste ingelig oor veranderinge aan die Wes-Kaapse drankregulasies en die invloed daarvan op toerisme.
Die Wes-Kaapse regering het die regulering van dranklisensies by die polisie oorgeneem, en is vasbeslote om oortreders streng vas te vat.
Die nuwe wetgewing vereis nuwe dokumentasie en bring verhoogde koste mee.
Dit duur ook langer om ‘n dranklisensie te bekom.
Die belangrikste verandering is egter dat die owerhede met elke nuwe aansoek die perseel persoonlik besoek om te kyk of aan die nuwe vereistes voldoen word.
“Dit is noodsaakliker as ooit tevore om die aansoek deeglik voor te berei,” het Van der Bergh gesê.
Dit is ook nodig om ‘n tydelike lisensie te kry indien ‘n funksie in ‘n ander venue op die perseel as die restaurant/gastehuis wat reeds oor ‘n dranklisensie beskik gehou word.
“Dit is belangrik om ten minste 39 dae voor so ‘n funksie aansoek te doen. Laat aansoeke sal ‘n boete van R350 per dag opgelê word.”
Hanlie Keller, Alec en en Sonja Hooper, en Louise en Johan Keller.
Nog ‘n interessante nuwe regulasie is dat die eienaar van die restaurant/gastehuis aanspreeklik gehou sal word as ‘n gas die perseel in ‘n besope toestand as bestuurder van sy motor verlaat.
“Dit is die eienaar/bestuurder se plig om te sorg dat so ‘n persoon nie bestuur nie, en versuim om dit te doen kan daartoe lei dat die dranklisensie verbeur word.”
Voortaan kan die owerhede ‘n gastehuis/restaurant wat die drankwet oortree se naam in die media bekend maak. “Pas julle lisensies op!” het Van der Bergh gewaarsku.
Highgate
Johan Keller, van die Keller Groep, het as gasheer geleentheid gekry om Highgate bekend te stel.
Die Keller Groep het die toerismebesigheid vier jaar gelede by die stigters Alex en sy seun Arenhold Hooper oorgeneem.
Die afgelope twee jaar hanteer Johan die suksesvolle toerismebestemming, terwyl sy broer Viljee die volstruisboerdery op een van die 10 grootste volstruisplase in die wêreld hanteer.
Johan se vrou Louise bestuur De Denne-gastehuis en restaurant, terwyl Viljee se vrou Hanlie die Mooiplaas-gastehuis bestuur.
Die aand is afgesluit met heerlike happies wat deur Nellie-Enid Burger, sjef van Highgate se Pepper Tree-restaurant, voorberei is.
ARTIKEL & FOTO'S: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'