OUDTSHOORN NUUS - Daar is nog net vandag, 14 Maart tot 12:00 kan om 'n dorp te kan benoem vir die gesogte Kwêla Dorp van die Jaar 2025-titel!
Benoem jou dorp só
Om ’n dorp te benoem, moet die naam van die dorp na 33157 geSMS word. Dié nommer is toeganklik vir selfoonnetwerke in Suid-Afrika en Namibië.
Tydens die benoemingsfase is daar geen beperking op die getal dorpe wat deur ’n individu benoem mag word nie en SMS’e per selfoonnommer onbeperk. In alle ander fases van die kompetisie word SMS’e tot 30 per selfoonnommer beperk.
Só verloop die proses
Die vyf dorpe per streek met die meeste benoemings word aan die beoordelaars, wat uit verteenwoordigers van Kwêla en kykNET saamgestel is, voorgelê.
Die beoordelaars kies drie uit die vyf dorpe met die meeste benoemings per streek vir die semifinale ronde van die kompetisie.
In die semifinale ronde kry die publiek die geleentheid om deur hulle SMS’e die streekwenners te bepaal.
Die sluitingsdatum vir elke streek sal op Kwêla bekendgemaak word en die dorp met die meeste stemme dring deur na die eindronde.
Wanneer elke streek se wendorp bekendgemaak is, kry kykers die geleentheid om in die eindronde vir die Dorp van die Jaar te stem.
Aan die einde van die laaste ronde sal die dorp met die meeste stemme as Kwêla se Dorp van die Jaar aangekondig word.
Die laaste stemronde is tans geskeduleer vanaf Sondag 13 Julie om 19:00 tot Vrydag 18 Julie om 12:00 die middag.
Die wendorp sal op Kwêla bekendgemaak word op of na Sondag 2 Augustus om 19:00.
Dié dorpe mag nie deelneem nie
Die vorige twee jaar se streekwenners kan nie benoem word nie. 2023: Willowmore, Nieuwoudtville, Parys, Rooiberg, Hartbeespoort, Delmas, Walvisbaai en Margate.
2024: Outjo, Heidelberg, Modimolle, Jansenville, Frankfort, Vosburg, De Rust, Dullstroom en Port Edward.
Vorige wendorpe mag vir ses jaar nadat hulle as wenner aangewys is, nie weer aan die kompetisie deelneem nie. (Swakopmund 2019, Kareedouw 2020, Greyton 2021, Kroonstad 2022, Delmas 2023, Heidelberg GP 2024).
Pryse
2025 se Kwêla Dorp van die Jaar wen R1 miljoen in bemarkingswaarde van kykNET, en ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp gemaak deur Homebrew Films vir uitsaai in kykNET se advertensietyd. ’n Feesviering en musiekkonsert sal op die wendorp gehou word.
Lottoland het ook in hulle eie hoedanigheid ’n kontantprys van R1 miljoen vir die wendorp bewillig. Die nege finalisdorpe sal gevra word om besigheidsplanne in te dien met ’n begroting van hoe hulle die prysgeld sal spandeer. Dit sal aan die komitee of kontakpersone wat die kompetisie-veldtog in die dorp dryf betaal word. Die proses om ’n spesifieke projek daarmee vir die dorp aan te pak, sal deeglik geoudit word en deurgesien word tot die projek suksesvol afgehandel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’