OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het Dinsdagmiddag hul innige simpatie aan Roydin Jaars (16) se familie oorgedra.
Jaars, 'n jong seun van Bridgton is Dinsdag 20 Januarie oorlede na hy na bewering Maandag 19 Januarie deur 'n 11-jarige met 'n mes gesteek is.
Volgens sy suster, Jasmine Theart, is hierdie voorval vir hulle moeilik om te verwerk, eerstens omdat die vermeende messteker aan hulle bekend is, en tweedens omdat die familie voel die hospitaal hom na die insident nie reg behandel het nie.
Theart vertel dat die 11-jarige na bewering verlede week 'n mes gekoop het omdat hy graag een wou hê.
"Ons het almal rustig sit en koffie drink en uit die bloute steek die seun vir Roydin in die bors terwyl hy sit. Ons het net bloed sien spuit en dadelik die ambulans gebel."
Volgens haar het die paramedici gesê hulle moet hom regop hou omdat hy swak geword het weens die bloedverlies.
"By die hospitaal het hulle eenvoudig net die wond skoongemaak, steke ingesit en met 'n verband verbind en hom huis toe gestuur. By die huis het hy van pyn gekla en Dinsdagoggend het ons hom dood in sy bed aangetref."
Volgens die familie moes hy beter behandeling by die hospitaal ontvang het en moes hulle hom beter ondersoek het.
"Hy kon dalk nog geleef het as hulle hom ondersoek het."
Hulle beskryf Roydin as 'n sensitiewe kind wat lief was vir diere.
"Hy het nie met baie mense gemeng nie en het een goeie vriend gehad, hy was ongelooflik stil en teruggetrokke."
Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement van gesondheid en welstand, het die departement se innige simpatie aan Roydin se familie oorgedra.
"Ons kan bevestig dat die pasiënt by Oudtshoorn-hospitaal se noodeenheid gestuur is vir X-strale van sy borskas en daarna deur 'n dokter behandel is vir 'n messteekwond." Sy het afgesluit deur te noem dat die departement die familie uitnooi om 'n afspraak met Oudtshoorn-hospitaal se bestuur te maak indien hulle enige vrae rakende die pasiënt se behandeling het of gebruik wil maak van die hospitaal se beradingsdienste."
'n Navraag is aan adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Volgens inligting wat bekom is, is die 11-jarige tans in die hospitaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’