PRINS ALBERT NUUS - Die NG kerk Prins Albert het sy 180ste verjaarsdag die af-gelope naweek op 'n hoë noot begin met die Plaaskombuisfees en Zwartberg Trapsuutjies-fietsren en pretdraf.
In November word die verrigtinge voortgesit wanneer die presiese stigtingsdatum gehuldig word. Die NG gemeente Prins Albert, die 29ste oudste
NG gemeente in Suid-Afrika en die 20ste oudste in die sinode van Wes- en Suid-Kaapland, is in November 1842 gestig.
Honderde gaste – inwoners van Prins Albert en van ander dorpe en stede – het van Vrydag tot Sondag op die feesterrein saamgetrek – nie net om die verskeidenheid kossoorte en musiekaanbiedings te geniet nie, maar ook die aanbod van tuisgebak en ingemaak wat die dorp se bobaas-baksters en kosmakers voorgesit het.
Een van die grootste aantrekkingskragte was die vroegoggend-pretdraf en fietsren (albei oor verskillende afstande) vroeg Saterdagoggend.
Deelnemers het, onder leiding van Corné en Stephanie Botha van Jakhals Events in Oudtshoorn, weggespring in Markstraat, agter die kerkgebou.
Die prysuitdeling agterna – geborg deur ondernemings en individue van Prins Albert – het getoon dis 'n dorp wat saamstaan en omgee, wat graag besoekers ontvang.
Ds. Philip Scholtz, die gemeenteleraar, het aan Oudtshoorn Courant gesê die rede vir die viering kan beskryf word "met 'n hele aantal verduidelikende begrippe: genade, dankbaarheid, vreugde en liefde. Geskiedskrywers sal in noukeurige besonderheid al die hoogtepunte, blydskap, intriges, teleurstellings, oorlog en vrede van die mensdom die afgelope 180 jaar kan beskryf.
Die NG kerk in Prins Albert het sy 180ste bestaansjaar gevier.
Die kerk het te midde hiervan bly voortbestaan, danksy dié waardes wat getuig van God se bewarende Hand oor Prins Alberters deur bykans twee eeue. Dit is genoeg rede om met dankbare erkentlikheid fees te vier.
"Die Plaaskombuisfees is die kerk se jaarlikse fonds-insamelingsgeleentheid, maar het vanjaar die pretdraf- en fietsren-kinkel bygekry sodat inwoners en gaste gesellig kon saamkuier – ook rondom sportaktiwiteite. Ons het ons besoekers met hartlike Karoo-gasvryheid ontvang en hoop om dit volgende jaar weer te doen."
Scholtz en sy vrou, Anneke, wat in Januarie verlede jaar uit Durbanville na Prins Albert verhuis het, sê hulle het hul voete kom vind in die mooiste Karoodorp.
"Ons albei beleef dit as 'n seën en voel bevoorreg om hier in diens van die Drie-Enige God te staan. Ons is nederig dankbaar vir al die liefde en gasvryheid van hierdie spesiale gemeenskap en sien daarna uit om elke oomblik van ons oorblywende tydjie met vreugde te stap in die pragtige natuur van die Karoo en saam met sy besondere mense."
Fietsry was deel van die groot vieringe.
Die mooiste rangskikkings is in die kerk vertoon. Foto’s: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'