KLEIN KAROO NUUS - Die jaarlikse Cake Off Garden Route-kompetisie vind vanjaar weer plaas, maar die jaar is anders.
Volgens Trudi Stander, die insieerder van die liefdadigheidsgeleentheid moes hulle die jaar, as gevolg van die grendelstatus, buite die boks dink om die geleentheid ekstra spesiaal te maak.
"Vanjaar se Cake Off vind aanlyn plaas en doen ons dit nie net in Mosselbaai nie, maar ook in George en Oudtshoorn."
Dit is ook die sesde agtereenvolgende jaar wat die kompetisie plaasvind.
Oudtshoorn se Cake Off is Woensdag en kan bobaasbakkers 'n WhatsApp na Stander by 079 232 9085 stuur om in te skryf. Inskrywings is heeltemal gratis.
Vanjaar se tema is High Tea during #lockdown en gee diegene met 'n passie vir bak die geleentheid om hul bak- en versiervaardighede ten toon te stel.
"Vir die kompetisie moet die bakker die dag voor die kompetisie foto's en 'n kort video stuur. Dit kan wees van hoe hulle besig is om te bak en te versier en hoe hulle deur die proses gaan om hul produkte te voltooi. Elke bakker moet 'n koek, 12 olieballe (dougnuts) en 12 skuimpies (meringues) volgens die tema die bak.
"Die beoordeling die jaar werk ook anders en sal daar onder meer gefokus word op hoe mooi die tema deurgetrek is, tegnieke wat gebruik is en hoe die eindproduk lyk."
Die eindprodukte word in die onderskeie dorpe opgeveil. Gelde wat ingesamel word verdeel tussen die dorpe se korona-kospakkieprojekte, die deelnemers en aan bemarking en advertering.
Die algehele wenner neem ook in die eerste week van Mei aan die groot kompetisie deel en 'n kontantprys is op die spel. Hier gaan die drie wenners van die drie dorpe teen mekaar meeding om te sien wie die Tuinroete se beste bakker is.
Vanjaar se beroemde beoordeellaar is Tobi Jooste, bekende Suid-Afrikaanse sanger. Ander beoordeellaars is Hilary Otto, Denise Lloyd, Ian Perryman, Cecilia van der Heyde en Ronelle Stopforth.
George se kompetisie vind 23 April plaas en Mosselbaai en Hartenbos s'n op 24 April.
Vir meer inligting besoek die webtuiste.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'