OUDTSHOORN NUUS - Die vroue verbonde aan die KKNK ReWOLusie-span hekel en brei voluit vir hierdie jaar se KKNK.
Dit is veral vanjaar vir die span lekker om buite die boks te dink.
Die vroue het geweldig inisiatief geneem, en nie net met wol en breipenne gewerk nie, maar ook met ander mediums en elemente soos tremnet, borduurgare, verfkwaste en knoopwerk. ReWOLusie se tema vir 2026 skakel in by die KKNK se bemarkingstema wat van kruisstreek gebruik maak.
JC Aucamp, bemarkingsbestuurder van die KKNK, noem dat ReWOLusie se kreatiewe skeppings by meeste van die KKNK se venues, teaters, asook in die Feesmark en by 'n paar ander areas te sien is.
"Ons het hierdie jaar 'n paar nuwe deelnemers wat betrokke is en hulle kreatiewe bydraes moet beslis besoek word.
"Ou items wat voorheen deur die ReWOLusie verfraai is, waaronder die groot KKNK-letters, is aangepas om hierdie jaar opnuut gebruik te word. Ons nooi almal uit om die KKNK se venues te besoek en seker te maak dat hulle al die pragtige skeppings van Oudtshoorn ReWOLusie by die KKNK se 30ste verjaarsdag kan sien," noem Bets Wilkinson, koördineerder van Oudtshoorn ReWOLusie.
'n ReWOLusie wat deur hekelwerk 'n gemeenskap aanmekaarbind
Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf. 'n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme 'n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak. Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook 'n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap.
Oudtshoorn ReWOLusie is tydens die 10de kykNET Fiëstas in 2020 met die Blou Fiësta vir uitsonderlike bydrae en innovasie bekroon.
Brei saam
Of jy nou 'n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie. Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie.
Maak 'n skenking of donasie
Enigiemand kan by Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie. Die span het deurentyd wol en stopsels nodig en enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek.
Skenkings van wol, of fondse om wol en penne mee aan te koop, tot jou eie stukkies brei- en hekelwerk, elkeen kan 'n bydrae maak tot dié vreugde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’